Die gewilde Classics for All-musiekfees is dié jaar weer terug in sy wintertydgleuf.
Die fees word vanjaar van 20 tot 22 Mei in Greyton en Genadendal gehou.
Hermanus Times het met die feesdirekteur, Coenie Visser, gesels.
“Ek woon die afgelope agt jaar in Thailand en het die fees van daar af gereël. Natuurlik het ek voetsoldate en ’n klein komitee wat my help, maar ek kom gewoonlik so twee of drie weke voor die tyd na Greyton om die finale reëlings te tref,” vertel Visser.
“Ons moes die fees die afgelope twee jaar weens die Covid-19-pandemie kanselleer, maar ons het ’n mini-fees in Desember gehou, wat ’n reusesukses was. Hierdie jaar is ons terug in ons oorspronklike datumgleuf – altyd die tweede laaste naweek in Mei – met ’n fees met nege konserte oor drie dae. Die hele idee van die klassieke musiekfees is dat dit ’n fees vir almal is – nie net vir klassiekemusiekfoendies nie. Ons is baie gesteld daarop dat ons dit ook aan jong mense moet bekendstel. Die Kaapse Filharmoniese jeug-blaas-ensemble, wat uit ongeveer 50 lede tussen 12 en 18 jaar oud bestaan, sal Saterdag 21 Mei om 11:00 optree. Dié vertoning is gratis vir kinders onder 12 jaar,” verduidelik hy.
“Die hoogtepunt sal natuurlik weer Philippus Hugo se gala-konsert wees, wat Saterdag 21 Mei om 19:00 in die Morawiese kerk in Genadendal sal plaasvind. Dit is altyd iets om na uit te sien.”
Visser sê hulle probeer ’n platform vir jong kunstenaars skep, soos jong musikante wat musiekkompetisies gewen het. “Baie van die jong mense wat voorheen deelgeneem het, speel nou in orkeste oor die wêreld heen.”
Op ’n vraag of straatmusikante, of buskers, soos hulle bekend staan, weer sal optree, antwoord Visser: “Ek wens ons kan in Suid-Afrika ’n kultuur van busking skep.
“ ’n Mens sien oral in Europa buskers. Dit is musikante wat nie skaam is om hul musiek op straat vir ’n inkomste te speel nie. Ek sal altyd na hulle luister en ietsie in hul hoed gooi.
“Ek probeer al jare om mense hier aan te moedig om te busk. Die eerste vraag wat hulle my altyd vra, is: ‘Hoeveel betaal jy?’ Nee … ek gee jou die geleentheid om oor ’n naweek op ’n plek waar mense musiek wil hoor, te speel. Jy bedel nie; jy hou ’n straatkonsert. Ek nooi dus buskers om my te kontak.”
Omdat slegs 50% van die venue-kapasiteit gebruik kan word, is ’n beperkte hoeveelheid kaartjies per konsert beskikbaar.
Visser sê: “Geen kaartjies sal by die deure verkoop word nie. Koop dus nou reeds jou kaartjies om teleurstelling te voorkom,” raai hy musiekliefhebbers aan.
Kaartjies kan deur Computicket of by die Greyton-toerismekantoor gekoop word.
Kontak die Greyton-toerismekantoor by 028 254 9414 vir kaartjies, inligting oor die feesprogram, verblyf en restaurante.