‘n Werker van Coca-Cola se kantoor in Hermanus het positief vir die koronavirus getoets.
Priscilla Urquhart, woordvoerder van Coca-Cola Peninsula Beverages (CCPB), sê die werker het Dinsdag sy uitslae ontvang ná hy die vorige week, Dinsdag (5 Mei), siek gevoel het en toe vir toetse gegaan het. Urquhart het bevestig die werker het op dieselfde dag in selfafsondering gegaan.
Volgens haar is alle veiligheidsprotokol en higiëniese planne onmiddellik geïmplementeer. “ Ons het dadelik Dinsdag begin om werknemers op te spoor wat moontlik verlede week met die positief getoetste werknemer in kontak was.
“Ek kan ook bevestig CCPB se Hermanus-kantoor is Dinsdag goed skoongemaak en ontsmet en die plaaslike span vir rampbestuur en die gesondheidsdepartement is in kennis gestel oor dié prosesse,” sê Urquhart.
Sy voeg by die gesondheidsdepartement het Woensdag by CCPB se kantoor in Hermanus ‘n draai gaan maak om die werknemers wat in noue kontak was met die werknemer wat positief getoets is, te ondersoek. “Altesaam 21 werknemers van die Hermanus-kantoor is vir Covid-19-toetsing verwys. Ons sal voortgaan om die risiko’s van geval tot geval te beoordeel. Ons gebede en gedagtes is by die Hermanus-spanlid wat van die virus herstel,” sê Urquhart.
CCPB se kantoor in Hermanus was Dinsdag tydelik gesluit vir die die skoonmaak en ontsmetting, maar is daarna weer vir sake oopgemaak.


