Conrad ’n man met ’n groot hart

’n Paar dae voor Kersfees het ’n geliefde inwoner van Hermanus sy lewe in ’n botsing op die R43 tussen Hawston en Kleinmond verloor. Die voertuig waarin Conrad Oosthuizen (45) gery het, het net ná 17:00 op 20 Desember teen ’n ander voertuig gebots.


’n Paar dae voor Kersfees het ’n geliefde inwoner van Hermanus sy lewe in ’n botsing op die R43 tussen Hawston en Kleinmond verloor. Die voertuig waarin Conrad Oosthuizen (45) gery het, het net ná 17:00 op 20 Desember teen ’n ander voertuig gebots.

Op 31 Desember om 15:00 is Conrad se lewe by die Old Boys Club in Hermanus gevier. Tydens die viering van Conrad se lewe was daar vertel hoe mooi Conrad altyd klante by Hi-Q gegroet het.

Conrad se familie beskryf hom as ’n legende wat heeltemal te vroeg uit hul lewens geruk is.

“Dit is God se wil en ons moet, al is dit hoe swaar, daarin berus. Ons dank die Here dat Hy Conrad vir amper 46 jaar vir ons geleen het en ons hom kon geniet het,” sê sy familie.

Volgens kaptein Fadila September, ’n woordvoerder van die Hermanus-polisie, word daar berig dat ’n wit Toyota Fortuner en ’n bruin Toyota Prado teen mekaar gebots het.

“Die passasier en bestuurder in die Toyota Prado is albei oorlede in die ongeluk en die bestuurder van die Fortuner is ook in die botsing oorlede. ’n Strafbare manslag-dossier is aangelê en word ondersoek,” sê September.

Conrad se familie wil graag al sy vriende asook die gemeenskap bedank vir hul ondersteuning, gebede en medelye deur besoeke, handdrukke, telefoonoproepe, kaartjies, blomme, e-posse, WhatsApp’s, Facebook-boodskappe en SMS’e.

“Dit het ons deur die verskriklike tyd gedra en sal ons ook in die toekoms help,” sê Conrad se familie.

Die familie wil ook die verkeersdepartement, polisie, paramediese personeel en ambulansdiens asook dr. Pierre de Villiers bedank vir deurlopende aandag aan Werner (wat saam Conrad in die ongeluk was).

Hulle bedank ook Noël Smit van Pretoria wat die ongeluk sien gebeur het en wie se vrou by Werner gewaak het terwyl die ambulans op pad was.

Die familie wil ook ds. Niel Olwagen, die Old Boys-klub, Midas vir verversings en die SMC-motorfietsklub bedank wat almal deel was van Conrad se lewensviering by die Old Boys Club. Almal wie die dag bygewoon het word ook bedank.

Ooswald, Conrad se pa, onthou hom as iemand wat altyd gegee het in plaas van ontvang het. “Hy het altyd ekstra moeite gedoen om mense te help. Hy het ’n groot liefde gehad vir sport en om sosiaal te verkeer. Hy was trots op sy eie manier, maar sou nooit staan vir ’n foto as hy iets gewen het nie soos toe sy span gewen het by die rolbal se sakeliga. Sy twee kinders, Liam en Nandi was sy alles gewees,” sluit Ooswald af.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.