Barbara Creecy, die minister van omgewingsake, bosbou en visserye, het op 18 Januarie – presies 10 dae ná die groot Kleinmond-brand waar sowat 5 417 hektaar se plantegroei beskadig is – die gebied besoek om die nagenoeg 300 brandbestryders te bedank.
Die groot vraag op almal se lippe is hoe die brand ontstaan het? Hoewel ondersoeke na die oorsaak van die brand nog aan die gang is, is aanduidings dat dit in die departement van bosbou, visserye en omgewing se denneboomplantasie in die Kleinmond-omgewing begin het.
Volgens Creecy is die brandbeskermingsvereniging tans besig om ’n brandverslag op te stel rakende die feite oor die oorsaak van die brand.
“Ons het ook die dienste van Sanparke ingespan aangesien hy die vermoë het om brande van hierdie aard te assesseer. Die omvang van die assessering sal die oorsprong en oorsake van die brand insluit, of brandbane en ander voorkomende maatreëls reg was of of enigiets anders die brand kon vererger het,” sê Creecy.
Die departement se Working on Fire (WoF)-span het ’n integrale rol gespeel om die brand in bedwang te kry. Lug- en grondhulpbronne is ook ontplooi. “Dit het 169 brandbestryders en bestuurslede, vlieëniers en helikopterondersteuningspersoneel, vier brandweerwaens, twee bosbouondersteuningsvoertuie, twee stakingseenhede, drie vervoerbusse, vier bakkies en drie lugondersteuningsvoertuie ingesluit om brandweerowerhede in die Overberg by te staan. Die WoF het ook vier soekvliegtuie en drie Huey- en ’n Black Hawk-helikopter, sowel as ’n vastevlerk-watervliegtuig gestuur om bykomende lugbrandbestrydingskapasiteit te verskaf.”
Volgens Creecy het die lugbronne in verlede week se brand sowat 83 uur gevlieg en 590 keer water oor die vlamme gaan stort – gelykstaande aan 1 014 miljoen liter water – om die vlamme te help blus.
Creecy sê sedert die somer-brandseisoen amptelik op 1 Desember 2021 in die Wes-Kaap begin het, het Working on Fire gehelp om 25 brande oor die provinsie heen te bestry en te onderdruk, met altesaam 26 brandbestrydingspanne wat tot dusver ontplooi is. Elf van dié spanne is die afgelope week hier by die Kleinmond-brand ontplooi.
“Working on Fire se vloot van 21 brandbestrydingsvliegtuie word tans in die Wes-Kaap vir brandbestryding uit die lug gebruik. Hierdie bronne sal voortgaan om vir die duur van die brandseisoen in die Wes-Kaap te werk.”
Sover is altesaam 5 644 hektaar sedert die begin van die 2021-’22-somerbrandseisoen afgebrand sonder enige lewensverlies en minimale strukturele skade wat aangemeld is.
“Die somerbrandseisoen van 2021-’22 sal na verwagting relatief besig wees. Dit kan toegeskryf word aan die impak van klimaatsverandering en uiterste weerstoestande wat tans in verskeie dele van die provinsie ervaar word,” sê sy.
As gevolg van ’n afname in humiditeit en droër toestande, is dit belangrik dat al die nodige hulpbronne ingestel en gereed is om veldbrande te bestry. Lugbrandbestryding is ’n integrale deel van daardie kritieke hulpbron en vervul ’n deurslaggewende rol.
“Die vliegtuie en helikopters verskaf water gemeng met branddempers na strategiese plekke op die brandlyn, wat hitte verminder en grondspanne in staat stel om nader aan die brand te kom en die vlamme te blus.”
Sy sê Suid-Afrika verskil nie van enige ander land nie en het die afgelope jare ’n toename in groot rampspoedige brande ervaar. “Klimaatsverandering speel ’n rol in die frekwensie en intensiteit van veldbrande.”