Daar is ’n slang in die gras

Hy is Hermanus se eie Steve Irwin. Corné Uys kan nie sonder die natuur nie, hulle loop saam soos vinkel en koljander.


Hy is Hermanus se eie Steve Irwin. Corné Uys kan nie sonder die natuur nie, hulle loop saam soos vinkel en koljander.

Corné vertel hy het vandat hy kan onthou Steve Irwin-programme gekyk, en tot vandag toe kan hy nie genoeg kry van dié Australiese natuurman nie.

“Die natuur is my lewe; ek kan myself nie indink sonder om deur diere omring te wees nie, veral nie wilde diere nie,” vertel hy. “Ek kan oor en oor na die programme oor Steve Irwin kyk.”

Sy belangstelling om slange te vang en dan te verplaas, kom ook van jongs af, en hy geniet dit om – soos hy dit stel – die onskuldige diere veilig in hul eie omgewing vry te laat.

“Ek het baie geleer. Ek het geleer jy moet respek vir die natuur hê en dan sal die natuur respek vir jou hê,” vertel Corné. Verder het hy ook geleer elke liewe dier, hoe klein ook al, vervul ’n belangrike rol in die ekostelsel. “Alles speel ’n belangrike rol. Slange help byvoorbeeld om muis- en paddaplae te beheer. Bye het hul eie doel, sowel as voëls, vlermuise en selfs die kleinste insek. Alles is geskep vir ’n doel en dit is ons plig om die natuur verantwoordelik te bestuur sodat alles in die ekostelsel kan pas,” verduidelik hy.

Corné is nog nooit deur enige slang gepik nie, maar hy vertel hy was onlangs amper die slagoffer van ’n luislang. “Dit was in Limpopo waar ek ’n noue ontkoming gehad het toe ek ’n luislang van naderby leer ken het. Dit is ’n merkwaardige dier met die wonderlikste eienskappe. Gelukkig het ek net-net uit die ‘kloue’ van dié mooi reptiel ontsnap.”

Op sy Facebook-blad kan jy sien hoe hy slange in en rondom Hermanus vang en dan weer in die veld vrylaat, maar dit was sy ontmoeting met die pofadder wat hy in Vermont gevang het, wat die aandag van baie Facebook-gebruikers aangegryp het. “Ek het al baie slange in my lewe gevang, maar hierdie massiewe pofadder in Vermont het my net weer laat besef ons moet die natuur respekteer,” vertel dié oudleerder van Hoërskool Hermanus. “Ek wil niks anders in die lewe doen as om slange te vang en hulle dan veilig te verplaas nie,” sê hy passievol.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.