Nadat meer as 5 000 hektaar se plantegroei afgebrand is en inwoners gevrees het vir hul veiligheid en of hul huise deur die Kleinmond-brand geraak kon word, is dit nodig om die mense te bedank wat gehelp het om die brand te bestry.
Dr. Annelie Rabie, die uitvoerende burgemeester van die Overstrand-munisipaliteit (OM), wat sedert 8 Januarie daagliks op die grond saam met die brandbestryders was en opgetree het as ’n middelman tussen die brandbestryders en die media, sê dit was ’n gesamentlike poging deur verskeie organisasies om die brand te bestry en talle lewens te red.
“Ons bedank die groot aantal mense wat ons ondersteun het,” sê Rabie. Die laaste grondspanne het die dorp Donderdag (13 Januarie) verlaat en net Overstrand se brandweer is agtergelaat om alles dop te hou.
“ ’n Magdom mense was betrokke. Die brand het oor verskeie departemente se grond gestrek. Dit het by die plantasie in Highlands ontstaan, wat nié die Overstrand-munisipaliteit se grond is nie. Dit het later versprei na grond wat ons (die OM) besit asook grond wat aan die Overberg-distriksmunisipaliteit (ODM) en Cape Nature behoort. Omdat die brande nie enkelvoudig deur een agentskap hanteer kan word nie, vereis dit samewerking van ’n klomp mense.”
Grant Cohen, die speaker van die Overstrand-munisipaliteit, sê dit het hom verbaas om te sien hoe almal soos een saamgestaan het. “Die brandweerbeamptes is volgens my van die bestes in die land. Dit was merkwaardig om te sien hoe hulle ons omgewing en mense beskerm. Hulle is ons ware helde,” sê Cohen.
Rabie het op tegniese vlak haar eie (OM) se brand- en wetstoepassings-kapasiteite bedank. “Ek wil ook die ODM, Stad Kaapstad se provinsiale rampbestuursentrum, Wildfire Services, EMS, Working on Fire, HARSA, Enviro Wildfire Services, Overberg Wildfire Volunteers, goFPA, NCC en die groot groep private grondeienaars wat na die beskerming van hul eie grondgebied omgesien het, bedank.”
Sy het ook die Kleinmond-polisie en die provinsiale verkeer bedank, wat die R44 en R43 op verskillende tye vir verkeer moes sluit.
“Ek bedank ook al die hordes gewone individue soos Philipa Myddelton, Carolyn Martin, Barry van Vuuren, Burgundy’s Restaurant en Spur se mense. Die sakeondernemings van Kleinmond en Hermanus het absoluut agter ons mense gestaan. Dis ongelooflik hoe almal ons ondersteun het. Meer as 180 mense se name is op ’n lys en ander mense het skenkings gegee, maar wil nie hul name genoem hê nie. Ek is baie nederig wanneer ek almal opreg bedank,” sê Rabie.
Sy het ook die inwoners bedank wat na hul bure en hul bure se diere omgesien het. “Bure het uitgekom en mekaar ondersteun. Dit was ’n baie goeie oefenlopie oor hoe dit kan wees as ons besluit hierdie is ’n Overstrand vir almal. Baie dankie aan ’n ieder en ’n elk.”
Rabie het ook bevestig dat Enviro Wildfire Services ’n ondersoek doen om vas te stel hoe die brand ontstaan het. “Ons sal die uitslae bekend maak sodra Enviro klaar is met hul ondersoek.”. Om die brandweer te bedank, hou die Kleinmond-gholfklub Vrydag 28 Januarie ’n vierbal-gholfkompetisie waarna alle geld aan die brandbestryders geskenk gaan word. ’n Veiling sal ook op die dag gehou word.
Suur e-pos na kleinmondbookings @gmail.com vir nog inligting.