Lana O’Neill het die Bredasdorp-polisie, plaaslike wetstoepassers en Kaap Agulhas-munisipaliteit vir hul ondersteuning aan Heavenly Promise Safe Haven bedank.


“Die polisie word gereeld gekritiseer oor swak dienslewering, en daarom is dit belangrik om hulle erkenning te gee vir die goeie dienslewering en ondersteuning wat ons ontvang.”

Dit is die woorde van Lana O’Neill van Heavenly Promise Safe Haven in Bredasdorp.

O’Neill het ook die Kaap Agulhas-munisipaliteit en plaaslike wetstoepassingseenheid vir hul ondersteuning bedank.

“Die polisie, onder leiding van die stasiebevelvoerder, kaptein Anneke Durand, se reaksietyd is oor die algemeen baie goed.

“Die polisiebeamptes se ondersteuning is puik en hulle tree altyd baie professioneel en met empatie op wanneer ons met moeilike situasies te doen kry.

“Die feit dat hulle ons bystaan deur vroue en kinders wat van moeilike situasies af moes vlug, te help, beteken hulle verdien om erkenning kry. Ek voel dis net reg om kaptein Durand en haar span vir hul ondersteuning en bereidwilligheid om ons by te staan, te bedank,” het O’Neill bygevoeg.

Die feit dat die polisie gereeld patrolliewerk in die omgewing van die veilige hawe vir mishandelde vroue en kinders doen, sê O’Neill, dra ook by tot ’n gevoel van veiligheid vir die inwoners wat reeds erge trauma ervaar het. “Ons waardeer ook die goeie samewerking wat ons van KAM, die munisipale bestuurder Eben Phillips, KAM se direkteur van gemeenskapsveiligheid en die wetstoepassingseenheid kry,” het O’Neill gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.