Dansers van die Vessels for Christ-dansgroep in samewerking met Perez Dance Ministry gebruik musiek en danspassies om vroue aan te moedig om die stilte rakende geslagsgebaseerde geweld te verbreek.
Die dansers het ’n vertoning getiteld “Enough” op Vrouedag (Dinsdag 9 Augustus) gelewer. Elke danser het ’n swart T-hemp met #Enough daarop gedruk sowel as kettings met pienk linte gedra om by die tema te pas.
Die Vessels for Christ-dansgroep is gestig net voordat die Covid-19- pandemie toegeslaan het. Die groep gebruik spirituele dans om hul gevoelens en standpunte oor belangrike kwessies soos geweld teen vroue en kinders uit te spreek.
“Om die stilte oor geslagsgebaseerde geweld te verbreek, is as gevolg van die nagevolge daarvan nie altyd maklik nie,” sê die ACDP-raadslid Rugene Dees.
“Ek kan getuig van mishandeling, maar ek het nooit daaroor gepraat totdat God my die krag gegee het om dit te doen nie, en daarom staan ek vandag hier by die inisiatief teen GBV. Ek het gesê ek gaan praat, ek gaan die stilte verbreek en nie toelaat dat dit met enigiemand anders gebeur nie,” het sy gesê.
Dees het egter gewaarsku teen die wanpersepsie dat net vroue en kinders die slagoffers van geweld kan wees. “Geweld het nie ’n preference nie, dis iets wat uit die put van die hel kom. Ons leef in ’n wêreld waar niemand seerkry gevrywaar is nie, maar daar is hoop; daar is mense wat jou kan help. Ek kan na aanleiding van die woorde “something has to break” in ’n liedjie sê: Soms moet iets breek sodat ons die skerwe kan optel en aanmekaar kan sit om voort te gaan met jou lewe.
“God het planne met jou.”