Sy lewe haar motto ten volle uit: “One life; live it.”
Debbie van Vuren is ‘n bekende in Hermanus – nie net sien jy haar met haar kunswerke by die Hermanus Country Market nie, maar dié busy beaver, soos sy na haarself verwys, is ook op die bestuur van die Hermanus-Kalfiefees.
Sy vertel hulle het op 14 November 2014 in Hermanus aangeland en sy was van dag een af verlief op die plek. “Ons is al in ons 11de jaar hier en ek lief, lief, lief die plek. Ek noem dit sommer ‘Herhemel’.”
Haar pragtige skilderye soos haar glimlag en kleurryke kleredrag kan nie misgekyk word nie, maar dié kunstenaar het jy nie altyd met ‘n verfkwas in die hand gesien nie.
Sy het aptekerswese aan die destydse Puk studeer en vertel haar belangstelling in kuns het al op universiteit begin. “Ek het uitstallings begin reël om my karige studentegeld aan te vul. Ek was nog altyd kreatief, maar die gogga het gebyt ná my eerste olieverfklas – destyds nog in Ellisras. Van daar af skilder ek vir die liefde daarvan en ook vir my siel. Dis baie terapeuties en ‘n uitlaatklep vir ‘n dromer soos ek,” sê sy.
Debbie was ná haar studies vir langer as 30 jaar voltyds in die aptekerswese. “Ek het meestal by retail-apteke gewerk, my eie apteek gehad en toe ons Ellisras toe verhuis, begin locum en ook in hospitaal-apteke gewerk. Ek het in Hermanus voltyds by al ons plaaslike apteke as locum uitgehelp. My man, Barry, het my ‘n paar jaar gelede oortuig om eerder in ons familieonderneming, Finanz, betrokke te raak en ek het my toe as ‘n korttermynversekeringmakelaar kwalifiseer.”
Maar, as sy die geleentheid kon kry, het sy die verfkwas opgeneem en na haar happy place gegaan.
Oor haar gunsteling-medium en -tonele vertel sy: “Ek het aanvanklik meer in olieverf gewerk, maar deesdae ondersoek ek baie ander mediums. Ek hou daarvan om nuwe goed te leer. Ek hou van natuurtonele, blomme en skilder ook graag gesigte, maar enigiets wat my inspireer en wat treffend is, vind hul plek na my skilderdoek toe.”
Haar man is iemand na wie sy opkyk en sy kan nie haar lewe sonder hom indink nie. “Barry is ‘n yster en sy durf en deursettingsvermoe is vir my prysenswaardig. Hy is nog altyd ons groot familie se anker en vir ‘n man om met ‘n vrou en vier dogters se grille te cope, is nie maklik nie.”
Debbie is nie net lief vir haar tuisdorp nie, maar wil ook graag Hermanus ‘n beter plek vir almal maak. “Ek is baie betrokke by dinge van die dorp. Ek is mal oor Hermanus en werk graag aan projekte om die dorp mooier, beter, vei- liger en sommer net lekker te help maak. Ek dien op die Hermanus-sakekamer se bestuur; ek help reël aan Hermanus Art in The Park en Artists@The Quay; ek het ‘n forum-WhatsApp-groepie vir kuns en gebeurtenisse en verder help ek maar uit waar ek kan.”
Om op die Hermanus-Kalfiefees se bestuur te dien, is iets wat Debbie se hart vinniger laat klop. “Ek het verlede jaar deel geword van die Kalfiefees-span en is die leefstylbestuurder. Dit behels die dinge wat deel is van Kalfiefees, soos die kuns, fotografie, filmfees, die venues en gesellighede oor die vertonings en nog meer,” sê sy.
Volgens haar was verlede jaar se betrokkenheid by die Kalfiefees een groot fees, al was daar spannende tye. “Die Kalfiefees is een groot hoogtepunt. Elke jaar se opening is hoendervel-opwinding en hierdie jaar se programbekendstelling gaan gewis ook ‘n hoogtepunt wees. Iets wat vir my uitstaan as bestuurslid van die Kalfiefees. is al die harde werk en voorbereiding, maar as die vertonings uitverkoop is, weet ek dit was die moeite werd.”
Sy laat ‘n bietjie die aap uit die mou en sluit af met ‘n lusmakertjie vir vanjaar se Kalfiefees: “Hierdie jaar gaan ‘n baie spesiale Kalfiefees wees. Die Kalfiefees is 25 jaar oud, Afrikaans is 100 jaar oud en ons eie rasegte wynkultivar pinotage is ook 100 jaar oud.
“Hierdie jaar gaan die feesvure hoog brand om ‘n samekooksel van al die besonderse verjaardae te vier! Ons program is uit die boonste rakke met topklasvertonings en ons gaan natuurlik ook ‘n wynfees as deel van ons aanbiedinge hê.”