Deur golwe weggesleur

Ten spyte van ’n uitgebreide soektog, waarby die nasionale seereddingsinstituut (NSRI), plaaslike buurtwagte en die polisie betrokke was, is nog geen teken gevind van ’n man wat Saterdag in Hermanus deur branders van die rotse af geslaan is nie.


Ten spyte van ’n uitgebreide soektog, waarby die nasionale seereddingsinstituut (NSRI), plaaslike buurtwagte en die polisie betrokke was, is nog geen teken gevind van ’n man wat Saterdag in Hermanus deur branders van die rotse af geslaan is nie.

André Barnard, bevelvoerder van NSRI Hermanus, het bevestig hulle is Saterdag 4 Junie omstreeks 12:09 uitgeroep na die toneel naby die Esplanade-hotel in Hermanus.

“Die NSRI-Hermanus-span is geaktiveer nadat ons verslae van ’n voormalige NSRI-Hermanus-spanlid en die Hermanus-buurtwag ontvang het van ’n man wat deur branders van die rotse voor die hotel afgeslaan is. Die reddingsvaartuig Rotarian Burnett is te water gelaat en NSRI-reddingswemmers, ons NSRI-reddingsvoertuig, die buurtwag, Overstrand-wetstoepassing en die polisie was op die toneel.”

’n Soektog na die 25-jarige man van die Hemel-en-Aarde-vallei, wat volgens berigte in die see oorkant die hotel gesien is, is dadelik van stapel gestuur.

Lourens Theron van Alfa-Afriforum-buurtwag het ook met sy hommeltuig na die man help soek.

“Ons het die hele baai – van Gearing’s Point tot by die Nuwe Hawe – gefynkam, maar tot nou is geen spoor van hom gevind nie,” het Theron Maandag gesê.

“Ons lede en die HPP-patrolleerders soek ook gereeld tydens patrollies na die man.”

Ten spyte van ’n uitgebreide soektog langs die kuslyn en in die see, kon die man nog nie opgespoor word nie.

Die man was volgens berigte besig om aas te soek toe die golwe hom van die rotse afgeslaan het.

Kapt. Fadila September, ’n woordvoerder van die Hermanus-polisie, sê die vermiste man is as Cashnill Malengane geïdentifiseer.

“Die man en sy meisie het die oggend by ’n plaaslike restaurant ontbyt geëet. Daarna het die vrou op die rotse ontspan terwyl hy aas soek gesoek het. Sy was besig om foto’s te neem toe sy opgemerk het hy is weg. Sy het toe alarm gemaak en die NSRI is gekontak,” het September gesê.

Die soektog na Malengane is Sondag voortgesit, maar teen Maandag was daar nog geen teken van hom nie.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.