Maandag is met skok verneem dat die speaker, onderburgemeester en ’n raadslid van die Theewaterskloof-munisipaliteit (TWK) deur hul party, GOOD, uitgeskop is.
Die persverklaring wat deur GOOD aan die munisipale bestuurder bekend gemaak is en op sosiale media versprei is, lui dat die lidmaatskap van John Michels (speaker), Jennifer McKenzie en Stanley Shuma (onderburgemeester) onmiddellik opgeskort is.
“Die beëindiging van hul lidmaatskap is ingevolge GOOD se grondwet en is onmiddellik van krag,” het die persverklaring, wat onderteken is deur die sekretaris-generaal van GOOD, Brett Herron, gelui.
Dit het behoorlik op sosiale media gegons oor die lot waarin die TWK hom tans bevind. Die DA-raadslid Lincoln de Bruyn is in Augustus as die nuwe tussentydse burgemeester aangestel. Sy aanstelling was van korte duur, want net twee weke ná die aanstelling is Tienie Zimmerman van die VF Plus nou die nuwe burgemeester.
‘Bedreiging’
Michels het op Facebook teen die GOOD se sekretaris-generaal uitgevaar en gesê hy is die grootste bedreiging vir dié party. “GOOD se swak vertoning tydens die 2024-verkiesing kan voor [die voete van] Brett Herron gegooi word. Sy politiek, swak organisatoriese vermoë en onvermoë om meer stemme te werf, is die oorsaak van die swak uitslae. Die feit dat hy raadslede voor die verkiesing links en regs afgedank het, is [nog ’n] rede vir die swak vertoning van GOOD tydens die 2024-verkiesing,” het Michels op Facebook gesê.
Hy het verder gesê hulle gaan die besluit teenstaan en later die middag (Woensdag 11 September) het dié boodskap van Michels op Facebook die ronde gedoen: “Dit is nou al oral bekend dat GOOD myself en nog twee raadslede wou remove vanaf die raad in Theewaterskloof-munisipaliteit. Ons het gistermiddag ’n dringende aansoek in die Wes-Kaapse hooggeregshof [in] Kaapstad gebring om dit te stop/tersyde te stel. Ons was geslaagd daarin en dus bly ons aan as raadslede. Op 24 Oktober is ons weer in die hooggeregshof om te bewys dat GOOD verkeerd was om ons te skors. Intussen bly ek aan as speaker.”
’n Spesiale raadsvergadering is gister (Woensdag 11 September) beroep waar daar ook dadels van gekom het aangesien geen kworum [’n voldoende aantal lede wat aanwesig is] teenwoordig was nie.
Intussen het Michels ook op Facebook gesê hy gaan by ‘n party aansluit wat die belange van die bruinmense op die hart dra. Dié boodskap op Facebook is intussen verwyder.