Lee-Ann en Johann, die wenners van Klein Paradys, wat op kykNET uitgesaai is.


Hul eenheid se naam is heel gepas “Asem”, en ná ’n spanningsvolle finale beoordeling kon Lee-Ann en Johann uiteindelik weer asemhaal toe hulle as die wenners van die eerste seisoen van Klein paradys, wat op kykNET uitgesaai is, aangewys is.

Daar was net ’n 0,1-verskil tussen hul puntetelling en die span wat tweede was. Die oorwinning het vir Lee-Ann en Johann R1 miljoen, geborg deur Capitec, in die sak gebring, maar die span in die tweede plek, Juan-Louis en Elri, was heel in hul noppies met die geskenkbewyse wat hulle deur die loop van die kompetisie van die borge gewen het.

Lee-Ann en Johann het met die intrapslag reeds gewys hulle is ’n span om dop te hou. Lee-Ann is met Johann se broer getroud, maar die twee van hulle het saamgewerk asof hulle dit al jare doen. Lee-Ann is ’n binnenshuisontwerp-student van Pretoria, en Johann is ’n strukturele ingenieur van Durbanville. “Die proses was superbevredigend en ek dink almal van ons het in hierdie maand baie gegroei en baie geleer, en ek is trots op ons,” het Lee-Ann ná die aankondiging gesê.

Die ses duo’s het minder as ’n maand gehad om hul eenhede klaar te maak. Die finale puntetelling het bestaan uit punte van ’n groep kenners, punte van die duo’s wat mekaar se eenhede beoordeel het en dan natuurlik die punte wat die drie hoofbeoordelaars – Wicus Pretorius, Magdalene Bobotoni en Jessica Pieters – toegeken het.

Die kenners, wat ontwerpers van mikro-eenhede, ’n argitek en die bemarkingshoof van Capitec ingesluit het, het Yvette en Klaas se “Aardvark” derde geplaas, Juan-Louis en Elri se “Intak” in die tweede plek en Lee-Ann en Johann se “Asem” in die eerste plek.

Ná die deelnemers se stemme was daar vier spanne op die podium: “Asem” en “Intak” gesamentlik tweede en Jannie en Mika se “22” en Gerrie en Maggie se “Palimpses” gesamentlik eerste. Maar aan die einde was dit die hoofbeoordelaars wat die finale besluit geneem het. Die uitslag was soos volg:

* Sesde plek: Kaapse nooi met 3,1 sterre: Die beoordelaars het die sussies van Bloem, Alicia en Claudia, geprys vir hul gebruik van kleur en vir die persoonlike stempel wat hulle op die eenheid afgedruk het.

* Vyfde plek: 22 met 3,6 sterre: Wicus het Jannie en Mika die “meesters van elegansie” genoem, en hulle is geloof vir hulle ruim badkamer.

* Vierde plek: Aardvark met 3,9 sterre: Die badkamer en kaggel was vir die beoordelaars die hoogtepunte, en Wicus het gesê dit is die eenheid wat hy vir ’n winterwegbreek sal bespreek.

* Derde plek: Palimpses met 4 sterre: Gerrie en Maggie se eiesoortige styl het die beoordelaars se oog gevang, en hulle is geloof oor hoe vernuwend hul denke was.

*Tweede plek: Intak met 4.5 sterre: Die pelle van Potch, Juan-Louis en Elri, het hul ruimte optimaal gebruik en hul styl deurgetrek – van die binnekant van die eenheid tot die buitekant. Hul prieel het veral baie gunstige kommentaar gekry.

* Wenners: Asem met 4.6 sterre: Lee-Ann en Johann se oog vir fyn detail en slim ontwerp sal enige gas laat welkom voel, het die beoordelaars gesê.

Besprekings vir behuising in Klein paradys, wat buite Grabouw geleë is, is nou oop. Gaan na https://oldmacdaddy.co.za/accommodation/klein-paradys/ om te bespreek.

You need to be Logged In to leave a comment.