GENADENDAL – “Om te dink jy het uit jou huis gegaan met al vyf kinders, dan keer jy met net vier terug. Dit breek ’n mens.”
Só sê Ricardo van Wyk, wie se oudste dogter, Viola Moodien (16), Woensdag 12 Januarie tydens ’n familie-uitstappie verdrink het. Die gesin het laatmiddag by die stroom wat verby Emil Weder Sekondêr verbyloop, gaan uitspan.
Op pad terug huis toe het Viola en haar broer Joshua Tarin besluit om by “Die Pompie” weer in die water te duik terwyl hul ouers van die wal af toegekyk het.
“Ons was so 10 meter van hulle af weg,” vertel Ricardo. “Ek het begin panic toe Joshua kort daarna vra waar is Viola. Ek het gedink en gehoop sy prank ons net.”
Ricardo en sy seuns het toe in die water gespring om na Viola te soek, maar hulle kon geen teken van haar kry nie, vermoedelik omdat die water te diep was nadat die gebied Sondag oorstroom het.
Volgens Ricardo het EMS-reddingsdienste opgedaag, maar omdat hulle nie die nodige toerusting gehad het nie, kon hulle nie Viola se liggaam uit die water kry nie. Polisieduikers het later daarin geslaag om Viola se liggaam aan wal te bring.
“Van wat ons kan aflei,” sê Ricardo, “moes sy haar kop gestamp het, want daar was ’n hou by haar linkeroog. Sy was seker bewusteloos en daarom kon sy nie weer opkom nie.
“Dit was die hartseerste dag van ons lewe. Ons het al die jare in die Kaap gebly en twee jaar gelede Genadendal toe getrek om ’n nuwe lewe hier te begin, maar toe verloor my dogter haar lewe hier.”
Hy beskryf sy oudste as ’n lewenslustige en spontane mens.
“Sy was my steunpilaar. So baie mense het na ons toe gekom om te sê dat sy diep in hul harte gekruip het,” vertel Ricardo.
’n Woordvoerder van die Genadendal-polisie het bevestig geen misdaad word vermoed nie. ’n Geregtelike doodsondersoek is ingestel.
Enigeen wat die familie kan bystaan deur verversings vir die begrafnis en gedenkdiens te skenk, kan Ricardo van Wyk by 065 608 7489 of (slegs WhatsApp) 083 504 0524 kontak.. Nog ’n persoon het die afgelope naweek in Grabouw verdrink. John Michels, die onderburgemeester van die Theewaterskloof-munisipaliteit, het op sy Facebookblad gedeel dat hy die tweede keer in ’n week saam met bedroefde ouers en familie op ’n wal moes sit en wag vir iemand wat verdrink het om uitgehaal te word.
Op 16 Januarie het hy die volgende gedeel: “Vandag was ’n baie emosionele dag. Die kind wat verdrink het, is gevind. As geharde duikers saam met die ouers huil, dan moet dit ons ’n idee gee hoe emosioneel dit op die toneel was. Hierdie duikers is helde. Terwyl hulle geduik het, het hulle vir my op ’n skerm gewys hoe dit onder die water lyk. Dit is pikdonker, en al wat die duikers kon doen, was om onder die water te swem met die hoop dat hulle teen iets sal vasswem. En dit is ook hoe hierdie seun gevind is. Dankie aan hierdie duikers. Mag God ook met hierdie bedroefde familie deur hierdie moeilike tyd gaan.”
Kapt. Raldeen Atson, die Grabouw-polisie se woordvoerder, sê die 19-jarige jong man het saam met vier vriende by die High Rising-dam gaan swem toe hy in die moeilikheid beland het.
“Polisieduikers het die seun se liggaam Sondag in die water gevind. Geen misdaad word vermoed nie en ’n geregtelike doodsondersoek is ingestel.”
Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) gee die volgende wenke as jy wil gaan swem:. Swem net by strande waar menseredders aan diens is;. Moenie alkohol gebruik as jy gaan swem nie; . Moet nooit alleen gaan swem nie. Swem altyd saam met iemand;. Volwasse toesig is noodsaaklik. As jy naby water na kinders omsien, moet jy op hulle en niks anders nie fokus. Jy kan nie kinders in die water dophou en terselfdertyd op jou foon besig wees nie.. Moenie self iemand probeer red nie – bel eerder die NSRI of polisie om te kom help.