Haar klaskamer weerspieël haar visie om leerders – ongeag hul agtergrond of intelligensie – nie net op te voed nie, maar ook emosioneel by te staan en hulle op die toekoms voor te berei.
Christine Bester, ’n grondslagonderwyser en departementshoof van Botrivier Primêr, lewe nie net vir haar beroep nie, maar vir haar is elke kind belangrik.
Dié merkwaardige vrou is onlangs deur die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) vereer vir die rol wat sy in haar leerders se lewe vervul. Sy is as die provinsiale wenner vir Uitnemendheid in Laerskoolonderrig aangewys.
Wat Christine se uitkyk op onderwys anders maak, is die feit dat sy tegnologie inspan om leerders gretig vir leer te maak. Nie net stel sy die kinders bloot aan die vierde nywerheidsrevolusie (4IR) en vaardighede rakende die begrip nie, maar sy span ook Kunsmatige Intelligensie (KI), robotika en kodering in om haar leerders van die nuutste tegnologie bewus te maak.
“Ek breek weg van die tradisionele manier van klasgee en moedig praktiese ervaringsleer aan, waar leerders ’n aktiewe rol in die klas speel en hulle nie net hulself ontdek nie, maar ook hul kennis uitbrei,” vertel sy.
Christine glo verder daaraan dat ouers ook by die leerproses van hul kinders betrokke moet wees en daarom bied sy gereeld werksessies vir die ouers ook aan en doen huisbesoeke. Sy hou ook daarvan om na die gemeenskap uit te reik.
“Alle kinders het talente en ons moet hulle nie net help om dit te ontdek nie, maar ook te ontwikkel. Net soos ons land is Botrivier Primêr baie divers. Ons het verskeie kulture en agtergronde in ons skool en dis waarom dit vir my so belangrik is om die leerders aan verskillende aktiwiteite bloot te stel. Ons het nie net sport in ons skool nie. Daar is die Marimba-groep, die koor, dans en nog baie ander aktiwiteite,” vertel sy.
Sy wek ook ’n liefde vir taal by leerders en van die leerders het aan die WOW-spelkompetisie deelgeneem en goed gevaar.
Dit is duidelik dat Christine se passie vir haar leerders aansteeklik is en sy neem ook gereeld die inisiatief om leerders op skooluitstappies te neem, waar hulle meer oor hul omgewing uitvind.
Die WKOD het Christine in sy skrywe soos volg beskryf: “Christine is ’n toegewyde onderwyseres wat ’n blywende uitwerking op die lewe van haar leerders en die breër skoolgemeenskap het – ten spyte van die sosiale uitdagings en beperkte geleenthede. Sy skep ’n inklusiewe, ondersteunende en stimulerende leeromgewing, wat emosionele ontwikkeling, samewerkende leer en akademiese uitnemendheid bevorder.”