“ ’n Kind wat blootgestel is aan enige vorm van wan- of ondervoeding doen permanente skade op wat nie herstel kan word nie. En ’n honger kind kan nie op skoolwerk konsentreer nie,” sê Philippus Swart van Harvest Food.
Dít was die dryfveer vir Swart en sy vennote om ’n produk, wat nie net maklik voorberei kan word nie, maar ook ’n hoë voedingswaarde het, te ontwikkel. “Ons het in 2019 begin met die idee om ’n kitspap te vervaardig wat aan dié voorwaardes voldoen. Ons voedingskundige, prof. Justin J. Roberts, is die meesterbrein agter hierdie produk. Ons wou nie net nog ’n produk as deel van die hoofstroom vervaardig nie. Dit moes unieke eienskappe hê.
“Ons wou vir kinders wat iets van hul lewe wil maak, maar wie se omstandighede dit nie altyd moontlik maak nie, ’n produk gee om te help. Die dilemma is baie voedingskemas lewer nie ’n bydrae tot ’n kind se breinontwikkeling nie. Dit lewer nie eens ’n bydrae tot ’n vyf ure skooldag nie, wat beteken die kind kan nie vir die vyf ure aaneen konsentreer nie.
“Wanneer ’n kind een porsie kos per dag eet, moet hy ’n minimum van 80% van die nodige voorgeskrewe voedingswaarde inneem. Ons kitspap, wat hierdie voedingswaarde het, hoef nie gekook te word nie. Dit kan eenvoudig met koue water of koue melk aangemaak word en het geen toevoegings nodig nie. Dit het ’n lae GI (glukemie indeks) en waar ’n kind vyf ure op die skoolbanke moet sit, help dit dat hul suikervlak nie skielik val nie, maar geleidelik uitgefaseer word,” sê Swart.
“Ons het ook Peak, ’n kitspap vir volwassenes, wat geskik is vir ouer mense, diabete en swanger vroue.”
Swart sê die kinderproduk, Happy Heroes, se fokus was altyd om te voed, maar ook om basiese opvoeding te doen.
“Vyf karakters is op die verpakking uitgebeeld, wat in die toekoms saam met verskeie celebs gebruik gaan word om opvoedingswerk te doen. Ons werk nou saam met die Vernon Philander-stigting asook die musikante PJ Powers en die Soweto Gospel Choir. Ons het spesiaal ’n liedjie laat skryf wat die heroes and harvest-konsep uitbeeld. Ons het al twee optredes saam met hulle gedoen, en beplan nog in die toekoms.
“ ’n Honger kind se menswaardigheid kan nooit laer geag word as dié van iemand wat kos het nie. Dit is regtig belangrik dat ons as mense en gemeenskap moet besef as ons wil hê ons plattelandse dorpe moet oorleef, moet ons in ons dorpe en in ons mense belê. Ek voel ek word gegun om te kan werk, en sien dit as my verantwoordelikheid om terug te gee aan die gemeenskap.”
Harvest Food voorsien tans daagliks ’n porsie van dié pap aan 100 kinders in Caledon, 120 in Kaapstad (waar hulle nou saamwerk met die Tygerberg-kindertrust) asook aan ’n senior sentrum in Napier.
Elke pak Happy Heroes- en Peak-kitspap bevat 10 porsies. Met slegs drie pakke kan iemand ten minste een daaglikse voedsame maaltyd vir ’n maand ontvang. As lesers iemand wil help, kan hulle van hierdie pap by Massave in Caledon koop en aan iemand skenk wat dit nodig het of in die skenkhouer plaas, wat voorsien is.