Die legendariese Gerrrie Coetzee word deur almal onthou.


Die klok het die laaste keer gelui… Ja,
Gerrie… ek sal jou nooit vergeet nie… van die vreugdevolle dae op Kovsies toe ons
gesien het hoe jy jou hande breek teen Mike “Die Tenk” Schutte se kop… tot jou
epiese gevegte met Kallie. Kallie die Blou Bul wat jou tart oor jou “seer
handjies”… Meer oor hom later.  

En toe beland ek mos by TV-nuus. En as
‘n bloedjong verslaggewer stuur hulle my na jou huis in Boksburg… 

Gerrie Coetzee was groot, seker ‘n goeie
ses voet vier in die ou taal. Hy het sagmoedig voorgekom, en hy was. Sy
lieflingshond was Wendy, die spanjoeltiefie. Coetzee ‘n jintleman, maar was
besonder innemend.  As hy met jou praat,
voel jy of jy en die Boksburg Bomber die enigste twee mense op aarde is.
Hy het verstaan van die druk van spertye, die nimmereindigende oorlog teen tyd
se uurglas wat onstuitbaar leegloop. Hy wys my sy hand, daardie bioniese
regtervuis. Gerrie, jy vertel my in jou sagte, maar intense stem hulle moes
repe spier, weefsel en sening uit jou linker bo-arm verwyder en in jou
regtervuis invleg. Jy  moes minstens 60%
van jou gevegte met  gebreekte hande
baklei… al twee jou hande, maar veral die regterklou. Teen Greg Page moes jy
letterlik met een hand in die kryt klim. Jy was die vinnigste swaargewig van
jou tyd, belaglik beweeglik vir ‘n man van tweehonderd-en-twintig pond.  

Jou huis het altyd vir my en kollega Jan
van Niekerk oopgestaan. Gewone middelklas huis. Boksgimnasium ingerig in die
kelderverdieping. Dit ruik na sweet, leer en Deep Heat. Slaansakke, bokshandskoene en kopskerms.  Boksplakate teen die mure. Jy was dikwels die
buiteperd. Maar jou talent het vroeg reeds gewys in  ‘n stuk of tweehonderd gevegte as amateur.
Ses teen jou boksvyand, Kallie Knoetze, waarvan jy drie wen en ’Die Bek” drie.
En julle trou op presies dieselfde dag, 8 Januarie, 46 jaar gelede.

 En toe kry jy jou kans, in Monte Carlo,
Junie 1979.  Ons klompie joernaliste by
TV-nuus se gebou in Henleystraat in Aucklandpark, is ‘n handjievol bevoorregte
Suid-Afrikaners wat Gerrie se geveg teen Leon Spinks regstreeks kan beleef. Die
Boerseun van Boksburg laat die man wat die grote Mohammed Ali onttroon het,
drie keer harpuis ruik voor die skeidsregter die geveg stopsit. En dit in die
eerste ronde! Die Amerikaanse kommentator stik amper in sy woorde, maar kry dit
tog uiteindelik uit: “Gerry Coat-Sea from South Africa, scores a major
upset!”
Pandemonium bars los. Ons harte bars van trots, ons jubel dat die
kranse antwoord gee. Redakteur Fanus Venter besluit terstond: dis ons
hoofstorie vir daardie bulletin. En toe is dit Loftus en John Tate. September
1979. Maar dit reent. Sommer emmers vol. Van die pawiljoen af moet die twee
vegters oor  ‘n sopnat grasveld
aanskuifel na die pawiljoen op die middellyn, waar minister Pik Botha reeds sy
plek ingeneem het. Tate se bestuurspan het die teenwoordigheid van gees om hul
man inderhaas ‘n paar ruberstwels te laat aantrek om die deurweekte grasveld
oor te steek. Gerrie se span, gelei deur sy pa, Flip, dink nie daaraan nie –
die gevolge is fataal: Teen die tyd dat Gerrie die kryt bereik, is sy boksskoene
sopnat. Gerrie is nie homself nie. Hy veg gly-gly; dit lyk of hy heeltyd van
balans is. Nogtaans veg hy end-uit dapper en Tate wen net-net met punte. Pik
wissel ‘n woordjie met hom, bemoedig hom. “Gaan aan Gerrie, jy kan!”

 Toe Mike Weaver op Sun City. In die
agste ronde het Gerrie die Amerikaner uit op sy voete, teen die toue. Hy is een
hou weg van ‘n oorwinning. Maar hy kan net nie die finale uitklophou plant nie
en word self – op sy voete – uitgetel in die 13de ronde.

 Jy moes altyd teen veel meer as jou
teenstander in die kryt veg. Jy as wit Suid-Afrikaner, jy, die pin-up boy
van apartheid
, was altyd gebrandmerk. En die voorturende pyn in jou hande,
veral die metakarpiese bene in die middel van die menslike hand.
Bevooroordeelde beoordelaars. Soos teen Renaldo Snipes in Tarrytown, New York
in die VSA op 9 Augustus 1981. Jy stuur hom twee keer planke toe, maar hulle ken
die geveg aan hom toe.

 Maar toe kom Ohio. Die Richfield
Coliseum, ‘n uur se ry per bus van Cleveland. Op  23 September 1983  vermorsel jy Michael Dokes in die 10de ronde. En die Amerikaanse kommentator hyg: “Dokes is down, and he’s down
hard!”
En Gerhardus Christian Coetzee word die eerste man uit Afrika en die
eerste wit seder Ingemar Johansson in 1959 wat die wêreld se swaargewigtitel
wen. Jy maak ons almal trots. En wéér breek jy jou hand, en moet noodgedwonge
vyf dae later in New York geopereer word. 
Ek bevind my in Windhoek, by die wêreld se grootse uraanmyn. En ek dink
terug aan Boksburg 1979 toe ek moes opkyk na jou om ‘n mikrofoon in jou gesig
te druk vir TV-Nuus… En ‘n klomp van ons spring in ‘n bakkkie met  ‘n luidspreker en vaar wild Wildhoek se
strate in. En ek verkondig uitbundig dat Suid-Afrika  die nuwe wêreldkampioen het.

En Kallie Koetze? Van alle nuusmakers
met wie my paadjie gekruis het, was die deurtrapte Pretorianer loshande die
kleurrykste. Die Bek van Boomstraat was letterlik nooit op sy bek geval nie. Hy
was die antitesis van Gerrie Coetzee: uitdagend, uittartend, vol bravade. Hy
was flambojant, kompleet met sy Noord-Transvaal-rugbykouse in die
bokskryt.  In 1979 moet Kallie Knoetze,
polisieman van Suid-Afrika, teen die Amerikaner Bill Sharkey gaan veg. In
Amerika. Knoetze veg stelselmatig sy plek oop as aanspraakmaker op
wêreldglorie. Dis my plig as verslaggewer om die Knoetze-storie te dek. Net
voor sy vertrek staan hy my  ‘n onderhoud
toe. Ek weet van die anti-Suid-Afrikaanse sentiment oor ons binnelandse beleid.
En Kallie het ‘n swart  seun tydens onluste
in die been gewond… Daarom moet ek die vraag vra: “Kallie, is jy nie bekommerd
oor betogers nie?” Hy gluur my aan asof ek Gerrie Coetzee is wat saam met hom
in die bokskryt is en trek los met: 
“Wat, betogers? Nee, kyk man, vir 
‘n betoger is ek niks bang nie, verstaan jy?” Kallie Knoetze het Bill
Sharkey op 13 Januarie 1979 in die derde ronde uitgeslaan.

You need to be Logged In to leave a comment.