Wie gaan koning kraai in die 125ste aanbieding van die wêreldberoemde Paarl Boxing Day-baanfiets-uitdaging, wat vandeesmaand op Tweede Kersdag (Dinsdag 26 Desember) weer by die Faurestraat-stadion plaasvind?
Die skilderagtige Bolandse dorpie Paarl is ’n raaisel in die sportwêreld – hoofsaaklik om twee redes. Dit bied jaarliks die wêreld se grootste skolerugby-derby tussen Paarl Gimnasium en Paarl Boys High aan, en dit bied ook jaarliks een van die wêreld se grootste baanfietsrybyeenkomste op Tweede Kersdag aan.
Jy is dalk die beste in die wêreld in ’n sekere baanfietsry-item, maar dit beteken nie veel vir die Paarl se getroue skare as jy tweede beste in die Paarl is nie! Die Boland is ongetwyfeld die bakermat van baanfietsry in Suid-Afrika en het van die beste fietsryers opgelewer wat die sport nog gesien het.
Die Paarl Boxing Day-baanfiets-uitdaging is die oudste byeenkoms in alle vorms van fietsry ter wêreld.
Die byeenkoms het die heel eerste keer in 1897 plaasgevind.
Die byeenkoms het oor die jare fietsryers van oor die wêreld heen na die Paarl gelok.
Die dag word afgesluit met die legendariese 25-myl-item, en die wenner van die laaste wedren word ook as die wenner van die dag beskou.
Benewens die ruim prysgeld is die Minnaar-wisseltrofee, wat uit 1908 dateer, ook op die spel.
Die vorige wenners by Boxing Day sluit al die bekende fietsryers in wat die sport in Suid-Afrika opgelewer het.
Bekende ryers se name wat op die Minnaar-trofee verskyn, sluit Dimension Data se Douglas Ryder en die SuperSport-kommentator Andrew McLean in.
Gary Beneke, Willie Engelbrecht en “The Idol” Alan van Heerden het ook die titel geëis.
Fietsry Suid-Afrika se lewenslange erepresident, wyle Gotty Hansen, het in 1959 en 1965 oorwinnings behaal terwyl Chris Willemse die titel in 1977 gewen het.
“Vir ons was die oorwinning van Boxing Day asof ons ’n wêreldtitel gewen het. As jy van die Boland-streek was, was dit selfs belangriker as om by World’s te wen. My Tweede Kersdag-oorwinning was een van die hoogtepunte van my loopbaan,” sê Willemse.
Kaartjies kos tussen R50 en R25 en kan gekoop word by www.itickets.co.za of op die dag by Faurestraat se hek.