Dit is nie die Vallei van die Sluiers nie, ook nie die Vallei van Verlatenheid nie, maar wel die Elgin-vallei, wat vir menige steeds onbekend is.
Om die Elgin-vallei te besoek, is soos om in ’n antieke winkel rond te snuffel – jy sal altyd iets kosbaar ontdek, wat jou weer en weer sal laat teruggaan na die winkel toe.
Met ’n besoek aan die Elgin-vallei is dit die appelboorde en wingerde wat jou eerste opval, maar as jy dieper delf, dan kom jy agter dat dit eintlik die mense is wat die vallei die moeite werd maak om te besoek.
Só is die Elgin Vintners ook.
Dié plaas, op die Appeltiser-pad naby Grabouw, is ’n skatkis om te ontdek. Die plaas het appelboorde en wingerde, maar dis die wyne, restaurant, gastehuis en spa wat dié plaas ’n besoek werd maak.
As jy op die plaas kom, word jy deur die wingerde en boorde omring, en as jy jou voet by die kelder in sit, laat die ouwêreldse bekoring jou na jou asem snak. Jy ontspan sommer dadelik as jy op die stoep van die restaurant sit, met die pragtigste uitsigte oor die Elgin-vallei, hoë bome, groen grasperke en perde.
Met die aanbieding van die #Sauvignonblanc-dag het Elgin Vintners sy deure vir die gaste geopen met ’n wyntoer deur sy bekende wynmaker, doktor Marinda Kruger-Claassen wat die besoekers vertel oor die wyne van Elgin Vintners – as jy haar eers uitvra oor haar wyne, kom jy vinnig agter haar passie vir wynmaak en die vallei is aansteeklik. ’n Paring met oesters word ook aangebied, en vir dié wat katvoet vir die glibberige seekos is, is die pizza’s die moeite werk om te probeer.
Die restaurant en gastehuis word deur Hein Scheffer en Casper van der Merwe bestuur. En terwyl pa voor die kaggel die wyn proe en kinders op die grasperk speel, kan ma in die spa ontspan waar professionele skoonheidsterapeute jou van kop tot toon sal bederf. Vir dié wat lus is vir iets anders, is die Elgin-vallei met al sy juwele net die plek om te besoek. Kontak 021 848 9587 vir besonderhede.