In 1973 as pas aangestelde junior dosent in Unisa se departement Afrikaans en Nederlands, het ek met bonsende hart my eerste nagevorste voordrag gelewer. Die gehoor was al my Afrikaans-dosente – toe met my aanstelling meteens geleerde en hoogs geëerde kollegas vir wie se kennis en menswees ek soveel respek gehad het. Die onderwerp wat ek om watter rede ook al gekies het, was “Kerktale oor die wêreld heen”, wat ingesluit het die Slawonies-Ortodokse, Katolieke (Latyn) en ander liturgiese tale, selfs Ge’ez, die Koptiese kerktaal tot vandag toe.
Nooit het ek toe kon droom of dink dat daar tot op hede die groot voorreg van (mee)deel male sonder tal my aangebied of te beurt sou val nie. Oor die jare het die onderwerpe saam met die gehoor van voorkoms verander, maar was en is steeds histories begrond. Referate oor Afrikaanse taalkunde, Pleknaamkunde, Genealogie en Argiefdokument-ontsluiting wissel mekaar af. Die volgende paar van talle aanbiedings het ’n besondere indruk op my gemaak: “Afrikaanse segskuns uit die natuur”; “Valhalla – uniek in Suid Afrikaanse naamgewing”; “’n Mandjie vol woordvrugte uit die Kompanjiestuin”; “Oosterse adel aan die Kaap”; “Cabo – van mense en hul plekke”; “Die Kaapse Argief en die begin van Afrikaans”; “Indigenous place names in VOC Cape documents”, en “People of the early Cape: what VOC documents reveal”.
Gedagtig aan Augustus as internasionale maand van die vrou, noem ek graag die volgende onderwerpe wat vir my nie slegs verrykend was nie, maar my telkens met deernis en dikwels weemoed gevul het: “Ons was daar” – ’n Boerefamilie se oorlogs- en kampervarings deur die oë van ’n kind” (ter ere van en nagedagtenis aan my ouma as konsentrasiekamp-dogtertjie tydens die Tweede Vryheidsoorlog); die tragiese Hugenote-verhaal wat in Franschhoek afgespeel het: “Maria Magdalena Marais van La Cotte”; en nou onlangs die aanbieding onderskeidelik in Pinelands en Bredasdorp oor “Maria van Riebeeck – ’n vrou van eerstes”, onvolprese, dog onontbeerlike pilaar vir die Westerse grondlegging in samehang met die inheemse (Eva Krotoa) en Oosterse (Angela van Bengalen) teenwoordigheid aan die suidpunt van Afrika.
Toe word ek uitgenooi deur die Agulhas Erfenisvereniging om, gedagtig aan Dias se verbyvaart en benoeming van die plek waar twee magtige oseane ineenvloei, ’n verbandhoudende praatjie te lewer. Wat ’n opdrag, wat ’n nuwe, ou wêreld wat voor my oopgevou het – verrassings, versweë kennis en onbeskrewe inligting het meteens gestalte aangeneem. Op 24 Mei vanjaar word “Portugese kruisvaarders langs die Afrikaanse kus” op L’Agulhas voor ’n opreg gewaardeerde en waarderende gehoor voorgedra. Met dié dat LitNet Akademies ’n uitgebreide voorlegging van hierdie lesing goedkeur vir publikasie later vanjaar, loop my beker oor.
Meteens besef ek dat die sirkel ná verloop van 52 jaar rustig en sonder ophaal voltooi is: ’n lewensreis van liturgiese tale tot kruisvaarte met sterk religieuse begronding, wat volkome aansluit by ander onderwerpe van die hart.
En in ootmoedigheid beleef ek weer eens die voorreg van (mee)deel.
Helena Liebenberg – bydrae gelewer vir Agulhas-erfenisvereniging/Heritage Association


