‘Dief in ons voorkamer’

CALEDON – Demensie is nie iets waaroor mense maklik praat nie – dalk weens te min kennis of dalk weens ’n mate van stigmatisering.


CALEDON – Demensie is nie iets waaroor mense maklik praat nie – dalk omdat hulle nie genoeg daarvan weet nie, of omdat ’n mate van stigmatisering rakende die onderwerp nog bestaan.

Heidehof-tehuis vir bejaardes in Caledon, in samewerking met die Caledon-dameskring, het onlangs ’n baie interessante werksessie met die tema “Die dief in ons voorkamer”, wat oor demensie en die versorging van demen­sie-pasiënte handel, aangebied. ’n Inter­aktiewe inligtingsessie vir versorgers van demensie-pasiënte is ook gehou.

Esther Möller, uitvoerende bestuurder van Heidehof, sê: “Ek het onlangs ’n demensie-werksessie bygewoon en besef ’n werklike groot behoefte aan inligting bestaan. Daarom het ek besluit om ’n werksessie in die Overberg-omgewing te reël. Ek is dankbaar dat verskeie deskundiges op die gebied bereid was om hul tyd op te offer en hul kennis met kursusgangers te deel.

“Die bywoning was besonder goed. Belangstellendes, asook versorgers, van reg oor die Overberg-streek het die werksessie bygewoon. Mense van Swellendam, Bredasdorp, Greyton, Hermanus en Caledon was daar. Die werksessie was ’n groot sukses en ek is seker almal het baat daarby gevind en is met nuwe kennis daar weg.”

Möller sê die terugvoer wat uit die evalueringsvorms ontvang is, was uitstekend. “Versoeke vir die aanbied van gereelde werksessies met verskeie onderwerpe is ontvang. Mense is honger vir hierdie soort geleentheid om hul vaardigheid en kennis te verskerp. ’n Behoefte aan praktiese raad bestaan om hedendaagse uitdagings die hoof te bied.

“Ek skenk ernstige oorweging aan die herhaling van hierdie werksessie in ander streke, maar ook met ander relevante onderwerpe in gedagte.”

Hermanus Times het met twee kursusgangers gesels oor hul indrukke van die werksessie. Leeann Pitcher, ’n versorger van Hermanus, sê: “Ek werk al 10 jaar as versorger van demensie-pasiënte en het dit baie behulpsaam gevind. Ek het sekere dinge nie geweet nie, wat ek nou in my werk kan toepas. Van die woorde wat gebruik is, was nogal ‘hoog’, maar ek gaan hulle gewis in ’n woordeboek naslaan.”

Salomien Beukes van Caledon sê: “Ek is nie ’n versorger nie, maar omdat dit al jare ’n passie van my is om met bejaardes en kinders te werk, het ek die geleentheid aangegryp om hierdie werksessie by te woon. As student het ek ses maande vrywillige werk by ’n private ouetehuis se siekeboeg gedoen waar ons ongeveer 20 pasiënte met demensie versorg het. Ek het baie by die werksessies geleer en ook baie dinge herken uit my ondervinding wat ek by die ouetehuis opgedoen het. Dit was werklik ’n baie positiewe ervaring.”

Die kliniese sielkundige Hestie Endrödy het insiggewende inligting oor demensie verskaf. Inge Koper, ’n prokureur, het waardevolle inligting rakende kuratorskap van demensie-pasiënte se finansiële belange gegee.

Marnel Coetzee, ’n voedselkundige, het interessante en praktiese wenke met betrekking tot voeding en versorging van pasiënte gedeel. Die algemene praktisyn dr. Reenen Schoonbee van Caledon het gepraat oor demensie en normale geheue-inperking.

Die gaskunstenaar Lizette Janse van Rensburg het die kursusgangers met haar musiek en getuienis vermaak. Die dameskring van Caledon het heerlike verversings en ’n ligte middagete voorsien.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.