Stanley Frans duik oor om vyf punte vir sy span aan te teken.Foto’s: Bianca Du Plessis


CALEDON – ’n Titaniese rugbystryd het Saterdag (12 November) op die Caledon-sportterrein gewoed waar die Caledon- en Montagu-rugbyklubs in ’n vierderonde-uitspeelwedstryd van Boland se Top-12-kompetisie swaarde gekruis het.

Die eindtelling was uiteindelik 22-20 in Caledon se guns nadat die tuisspan rustyd slegs 5-3 voor was.

Montagu, wat in die eerste helfte met ’n sterk wind in die blad gespeel het, het Caledon aanvanklik onder geweldige druk geplaas.

Die besoekers het vroeg in die wedstryd in die tuisspan se kwartgebied geboer, maar ’n magdom foute asook rotsvaste verdediging deur Caledon het verhoed dat Montagu munt kon slaan uit die gebiedsvoordeel wat hy op daardie tydstip geniet het.

Nietemin het ’n strafdoel, deur Ryan George, Montagu se skrumskakel, sy span vir ’n rukkie laat voorloop voordat Lorenzo Swarts, Caledon se heelagter, die bal in die hande gekry en op loop gegaan het.

Lorenzo het toe na Stanley Frans (regtervleuel) uitgegee, wat rieme neergelê het doellyn toe en in die regterhoekie oor is. Lorenzo se doelskop was mis, maar die telling was 5-3 in sy span se guns.

Ná rustyd is Montagu vyf meter van sy doellyn gestraf en Dylin Jacobs (skrumskakel) het ’n vinnige tikskoppie geneem.

Daarna het Jonathan Wabatyalaka (flank) in die regterhoekie oorgeduik. Dié doelskop was mis, maar die telling het tot 10-3 in die guns van Caledon gegroei.

Caledon het verbete verdedig, maar Tain-Randall Booysen kon daarin slaag om vir ’n pragdrie oor die doellyn te duik en die telling 10-8 te maak. Dié doelskop was ook mis.

Kort daarna het Caledon se buitesenter, Dylan May, swak verdediging deur Montagu uitgebuit en deurgesny vir sy span se derde drie, wat die telling 15-8 gemaak het.

Lorenzo se doelskop ná Dylan se drie het egter so ’n bietjie verwarring veroorsaak aangesien dit gelyk het of die skop oor was en albei lynregters se vlae omhoog geskiet het. Die skeids­regter, Shane Muller, het egter dadelik sy arms dwars geswaai – ’n teken dat die skop mis was – en die ekstra twee punte kon nie bygevoeg word nie. Die telling het dus op 15-8 gebly.

In die 68ste minuut het Tain-Randall Montagu se tweede drie aangeteken. Die doelskop was links verby, maar Montagu se agterstand het verklein (15-13).

Rowan Henike het toe Caledon se bonuspunt-drie gaan druk. Lorenzo se doelskop was in die kol en Caledon het, met min speeltyd oor, 22-13 voorgeloop.

Montagu het verwoed teruggeveg en Mac-John Daniels (binnesenter) het ’n skitter-drie agter die pale gaan druk. Ryan het die doelskop oorgeklits om die telling 22-20 te maak.

Hoewel Montagu daarna weer sterk aangeval en byna die Caledon-ondersteuners se vreugdevure geblus het, het die tyd uitgeloop en die tuisspan het koning gekraai.

Stanley Frans, Dylan May, Rowan Henike en Jonathan Wabatyalaka het elk een drie vir Caledon gedruk. Lorenzo Swarts, wat al by twee vorige wedstryde as die speler van die wedstryd aangewys was, het ’n doelskop oorgesit.

Caledon reis hierdie week na Saldanha vir ’n wedstryd wat hulle van harte hoop om te wen.

“Ons gaan met een doel Saldanha toe en dit is om te wen. Dinge is nou baie tight,” het die Caledon-rugbyklub se voorsitter, Liaan King, gesê.

“Ons hoop Darling klop Bella Vista, want dan hoef ons net twee punte aan te teken om te verseker dat ons deur is na die eindronde, wat op 3 Desember in Wellington plaasvind.” . Hawston het Saterdag weg teen Wesbank gespeel. Dit was vanuit die staanspoor ’n klipharde wedstryd met die voorspelers wat behoorlik onder mekaar ingeklim het. Hawston het die oorhand voorlangs gehad en teen rustyd was die telling 11-8 in Hawston se guns.

Skrik vir Niks se kaptein, Branden Hunter, sê Wesbank het in die tweede helfte met passie teruggekom en Hawston se foute benut om twee drieë aan te teken.

Met ’n paar minute speeltyd oor het Hawston die telling 30-27 gemaak. “Almal het ná daardie drie gedink Hawston gaan wen, maar met een minuut speeltyd oor het Wesbank punte gaan druk om die eindtelling 32-30 te maak,” aldus Hunter.

Baie SVN-ondersteuners wonder egter oor ’n beslissing van die skeidsregter wat die laaste drie aan Wesbank toegeken het ten spyte daarvan dat dit soos ’n vorentoe-aangee gelyk het.

Dueston Olivier, Branden Hunter en Gerswin October het vir hul span oor die doellyn geduik. Roland Swarts het twee strafskoppe oorgeklits en ook twee drieë verdoel.

Skrik vir Niks speel hierdie naweek tuis teen Citrusdal. Volgens Hunter is dit ’n “maak-of-breek-wedstryd”.

“Dit is ’n wedstryd wat ons moet wen om vyf punte te kry om te kwalifiseer vir die halfeindronde, wat ’n week later in Wellington gespeel word,” het Hunter gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.