Rubberkoeëls, traangas, noodroepe op sosiale media en gerugte dat die N2 toegemaak sal word, was verlede week aan die orde van die dag na ontstelde huiseienaars van Knoflokskraal uitsetting in die gesig gestaar het.
Lede van die Grabouw-Khoisan-raad (GKR) was erg onthuts nadat owerhede verlede Dinsdag strukture afgebreek het.
“Dit voel of geskiedenis homself herhaal. Verlede jaar, ook omtrent dié tyd, het ons uitsettings in die gesig gestaar en nou weer. Maar dié keer was die owerhede vir my meer gewelddadig, van ons lede is omgery en traangas en rubberkoeëls is gebruik om ons uitmekaar te dwing,” het ’n ontstelde inwoner van Knoflokskraal, wat anoniem wil bly, gesê.
Volgens AO Joseph Swartbooi, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, was die eenheid van openbare orde verlede Dinsdag en Woensdag op die toneel en het die polisie minimum mag ingespan om orde te herstel nadat die gemeenskapslede hulle tot geweld gewend het.
Die gemeenskap ontken egter dat hulle gewelddadig opgetree het en volgens hulle was die betoging vreedsaam.
Video’s op sosiale media skilder egter ’n ander prentjie. Video’s het die ronde gedoen waar gemeenskapslede die polisie onder klippe steek en selfs dreig om plase in die omtrek aan die brand te steek.
Ander video’s wys weer hoe die polisie mense se selfone wil konfiskeer en die omstanders met rubberkoeëls en traangas onder beheer wil kry. Selfs ’n joernalis van Netwerk24 is toegang tot Knoflokskraal geweier. Hooggeregshofbevel
Dié uitsettings kom nadat die nasionale departement van openbare werke en infrastruktuur, wat die eiendom besit, verlede jaar ’n hofbevel gekry het wat die GKR verbied om nuwe strukture op te rig en aan die departement die reg gee om onbewoonde strukture af te breek. Die GKR beset al sedert November 2020 die grond.
Samesprekings tussen die departement en die regspan van die GKR het ook verlede Dinsdag by die Wes-Kaapse hooggeregshof geskied.
“Die saak is uitgestel en ons vergader in die week saam met die departement en die vereniging wat uit die aangrensende boere bestaan om planne daar te stel om die probleme op te los,” het een van die bestuurslede gesê.Aangrensende boere
Die boere in die omgewing het ook saamgestaan om hul grond te beskerm en regshulp teenoor die GKR ingewin.
Gerugte doen die ronde dat van die boere onder misdaad deurloop vandat die Knoflokskraal-saga sy gang gaan.
“Ek het ook gehoor dat van die boere al hul eie sekerheidsmaatskappye aangestel het om hul eiendom te beskerm en ander boere het selfs ’n sloot gegrawe om ‘ongewenste elemente’ van hul plaas af te hou,” het nog ’n bron bevestig.Inwoners
Volgens een van die bestuurslede van GKR is daar tans meer as 1 500 strukture opgerig. Van die huiseienaars en Khoisan-lede van Grabouw sien egter rooi aangesien dié spesifieke grond vir Khoisan-lede van Grabouw bedoel is, maar nou is daar lede van ander dorpe en streke wat glo vir hulle ’n “tweede huis” by Knoflokskraal aanskaf.
“Dit is ’n probleem, want die ander Khoisan-organisasies het by die ‘agterdeur’ ingekom en ook vir hul eiendom hier kom toe-eien. Ons is in die proses om met hulle ook te kommunikeer om ’n goue middeweg te kry,” het een van die bestuurslede gesê.TWK-munisipaliteit
Die TWK het by monde van sy burgemeester, Kallie Papier, sy steun aan die Khoisan-mense gegee. “Vir te lank het ons ’n ander pad gekyk en nie die mense van Knoflokskraal ondersteun nie. Dis daardie mense wat vir ons gestem het,” het Papier gesê.
“Ons gaan die gemeenskapslede van Knoflokskraal bystaan deur vir hulle raad te gee rakende hul situasie. Aan die einde van die dag kan ons hulle net ondersteun. Ons sal ’n volle assessering oor Knofloks doen, ons kan nie die situasie bestuur of beheer nie en dit is net ’n kwessie van tyd voordat dit die TWK se probleem gaan word, dus moet ons maar nou ingryp,” het Papier gesê.