Disa-dienssentrum vul subsidie met teeparty aan

Die Disa-dienssentrum in Myddleton het Sondag 15 Mei ’n gesellige geldinsameling-teepartytjie gehou.


Die Disa-dienssentrum in Myddleton het Sondag 15 Mei ’n gesellige geldinsameling-teepartytjie gehou.

Dié klub, wat in 1982 gestig is, is in 2002 as ’n organisasie sonder winsbejag geregistreer en het sodoende ’n gereelde subsidie van die departement van maatskaplike ontwikkeling ontvang.

Yvonne Geduld, bestuurder van die dienssentrum, sê die subsidie is egter geweldig gesnoei, wat hulle noop om gereelde geldinsamelingsprojekte te hou. Die sentrum verskaf etes aan lede en hou hulle ook besig met handwerkprojekte soos brei en blommerangskikking. Lede het ook in die verlede gereeld aan die Golden Games-sportdae vir seniors deelgeneem.

Baie van die vroue teenwoordig, was uitgevat in pragtige hoede, en ’n prys vir die mees oorspronklike hoed is aan Mona May toegeken. Felicity Philander, afgetrede maatskaplike werker van Caledon, was die gasspreker en Elmarie Lahoud van die Pinkster Protestante kerk in Caledon se damesklub-breikring het snoesige gebreide mussies aan die gaste uitgedeel.

Die drieman- Hawston Gospel Bells, onder leiding van Stoffel Kees, het die gaste verras met ’n musiekoptrede en ’n heerlike feestelike atmosfeer opgelewer.

Geduld sê inwoners van Myddleton is welkom om by die Disa-dienssentrum aan te sluit. Hulle sal gewis met ope arms verwelkom word.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.