“As ek een ding uit die Comrades-marathon geleer het, is dit dat ’n mens nooit moet moed opgee nie.”
Dít is die antwoord van Wietse van der Westhuizen, organiseerder van die Hemel-en-Aarde-marathon, aan Hermanus Times by navraag oor die op-die-nippertjie-roeteverandering van dié marathon.
Altesaam 1 500 atlete van oor die land heen het hulle ingeskryf vir die tweede Hemel-en-Aarde-marathon, wat Saterdag 5 Maart by die Hoërskool Overberg sou begin en by die Hoërskool Hermanus sou eindig. Amper vyf maande se noukeurige beplanning om te verseker dat alles vlot sal verloop, is binne ’n oogwink uitgewis toe Van der Westhuizen laat Donderdagmiddag, net effens meer as 24 uur voor die begin van die wedloop, in kennis gestel is dat die marathon gekanselleer moet word.
Werk word tans aan dele van die Hemel-en-Aarde-pad gedoen en ’n stop-en-ry-stelsel word gebruik. Hoewel Van der Westhuizen die nodige toestemming vir die marathon by die betrokke padwerk-kontrakteurs verkry het, het die verkeersdepartement gevoel die roete sal onveilig wees vir atlete en die marathon summier afgelas.
Hiervoor was Van der Westhuizen glad nie te vinde nie. Hy sê organiseerders van sportgebeurtenisse, asook ander beplande geleenthede, het dinge die laaste paar jare gans te maklik op die laaste minuut gekanselleer.
In wat hy een van die mees stresvolle naweke in sy lewe noem, het Van der Westhuizen die haas onmoontlike vermag en ’n heel nuwe roete in en om Hermanus in slegs 24 uur gereël gekry.
Dit sou nie moontlik gewees het sonder die hulp en bystand van die Overstand-munisipaliteit, die burgemeester, Annelie Rabie, sowel as die Hermanus-verkeersdepartement nie.
Die nuwe roete is ná vier vergaderings met die verkeersdepartement goedgekeur.
Van der Westhuizen sê die verkeersdepartement sowel as die plaaslike wetstoepassers het uit hul pad gegaan om hom te help, met 47 beamptes wat bereid was om gedurende die marathon bystand te verleen.
Alles moes ook van Caledon na Hermanus verskuif word. Nuwe waterpunte moes opgestel word en nuwe roetebeamptes moes gevind word.
Elke deelnemer moes per e-pos van die veranderinge verwittig word, so ook die aankondiger, die tydhoumaatskappy, die klankmense, die herwinningsmaatskappy en talle ander wat by die ren betrokke is.
Die paar haakplekke wat wel opgeduik het, is gou en vindingryk uitgestryk.
Francois Hooneberg, Hoërskool Hermanus se hoof, en Arno Conradie, die skool se sport-organiseerder, word in besonder vir hul hulp en bystand bedank.
Nie net was die begin- sowel as eindpunt by die skool nie, maar die registrasie het ook daar plaasgevind.
Van der Westhuizen reken hoewel dit voel asof hy oor dié naweek 10 jaar ouer geword het, het alles tog uiteindelik glad verloop.
“Ek sien sommer baie uit na volgende jaar se marathon.”
Hermanus Times het met Gill Koch van Kaapstad, een van die deelnemers, oor haar ervaring van die marathon gesels. Sy sê: “Ek het verlede jaar aan hierdie pragtige marathon deelgeneem en ek en twee vriendinne het baie na hierdie jaar se wedloop uitgesien. Toe ons ’n dag voor die tyd ’n e-pos oor die roeteverandering kry, het ek ons verblyf in Caledon gekanselleer en reëlings getref om by vriende in Hermanus te oornag. Dit was ’n kwessie van life happens, get on with it.
“Ek was gaande oor die marathon en het baie van die nuwe roete gehou. Daar was elke drie kilometer ondersteuningstafels met water, koeldrank en ys en niks om oor te kla nie. Ek haal my hoed af vir Wietse en die ander organiseerders wat op sulke kort kennisgewing so ’n wonderlike marathon gereël het. Ek is ook baie trots dat ek binne vyf ure klaargemaak het en sodoende vir die Twee Oseane-ultramarathon kwalifiseer.”