Dit was hemels!

“As daar een ding is wat die Comrades-maraton my geleer het, is dat ’n mens nooit moed moet opgee nie.”.


“As daar een ding is wat die Comrades-maraton my geleer het, is dat ’n mens nooit moed moet opgee nie.”

Dít is Wietse van der Westhuizen, organiseerder van die Hemel-en-Aarde maraton, se antwoord aan die Hermanus Times by navraag oor die op-die-nippertjie-roeteverandering van dié maraton.

Altesaam 1 500 atlete van oor die land heen het ingeskryf vir die tweede Hemel-en-Aarde-maraton wat Saterdag 5 Mei by die Hoërskool Overberg sou begin en by Hoërskool Hermanus sou eindig. Amper vyf maande se noukeurige beplanning om te verseker dat alles vlot verloop, is binne ’n oogwink uitgewis toe Van der Westhuizen laat Donderdagnamiddag, slegs bietjie meer as 24 uur voor die begin van die resies, in kennis gestel is dat die maraton gekanselleer moet word.

Daar word tans aan dele van die Hemel en Aarde-pad gewerk met ’n stop-en-ry-stelsel. Alhoewel Van der Westhuizen die nodige toestemming vir die maraton by die betrokke kontrakteurs wat aan die pad werk verkry het, het die verkeersdepartement gevoel dat die roete onveilig is vir hardlopers en die marathon summier afgelas.

Hiervoor was Van der Westhuizen glad nie te vinde nie. Hy noem dat organiseerders van sportgebeurtenisse, asook ander beplande geleenthede, oor die laaste paar jare gans te maklik dit op die laaste minuut gekanselleer het.

In wat hy een van die mees stresvolle naweke in sy lewe noem, het Van der Westhuizen die haas onmoontlike vermag en ’n heel nuwe wedren in en om Hermanus in slegs 24 uur georganiseer. Dit sou nie moontlik gewees het sonder die hulp en bystand van die Overstand-munisipaliteit, die burgemeester Annelie Rabie sowel as die Hermanus-verkeersdepartement nie. Ná vier vergaderings met die verkeersdepartement is die nuwe roete goedgekeur. Van der Westhuizen noem dat die verkeersdepartement sowel as die plaaslike wetstoepassers uit hulle pad gegaan het om hom te help, met 47 beamptes wat bereid was te help gedurende die maraton.

Alles moes ook van Caledon na Hermanus verskuif word. Nuwe waterpunte moes opgestel word, nuwe roetebeamptes moes gevind word. Elke deelnemer moes per epos van die veranderinge verwittig word, so ook die aankondiger, tydhoumaatskappy, klankpersoon, herwinningsmaatskappy en vele ander betrokke by die ren. Die paar haakplekke wat wel opgeduik het, is gou en vindingryk uitgestryk.

Hoërskool Hermanus se skoolhoof, Francois Hooneberg en die sportorganiseerder Arno Conradie word in besonder bedank vir hulle hulp en bystand. Nie net was die begin- sowel as eindpunt by die skool nie, maar alle registrasie het ook daar plaasgevind.

Van der Westhuizen reken dat alhoewel dit voel asof hy oor dié naweek 10 jaar ouer geword het, het alles op die ou einde tog glad verloop en dat hy uitsien na volgende jaar se maraton.

Die Hermanus Times het met een van die deelnemers, Gill Koch van Kaapstad, gesels oor haar ervaring van die maraton. “Ek het laas jaar aan hierdie pragtige maraton deelgeneem en ek en twee vriendinne het baie uitgesien na hierdie jaar se wedloop. Toe ons ’n dag voor die tyd ’n e-pos kry met die roeteverandering, het ek eenvoudig ons verblyf in Caledon gekanselleer en reëlings getref om by vriende in Hermanus te oornag. Dit was ’n kwessie van Life happens, get on with it. Ek was gaande oor die maraton en het baie van die nuwe roete gehou. Daar was elke drie km ondersteuningstafels met water, koeldrank en ys. Daar was regtig niks om oor te kla nie. Ek haal my hoed af vir Wietse en die ander organiseerders wat op sulke kort kennisgewing vir ons ‘n wonderlike maraton gereël het. Ek is ook baie trots dat ek binne vyf ure klaargemaak het en sodoende vir die Two Oceans-ultramarathon kon kwalifiseer.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.