Kom draf, kom stap, kom vier Afrikaans met die Toyota Stellenbosch Woordfees se opwindende Velddraf met woorde op 12 Oktober.

Ontvlug die rompslomp van jou bestaan. Moenie ‘n rusbankpokkel of inkoejawel wees nie. Kom draf, kom stap, kom vier Afrikaans met die Toyota Stellenbosch Woordfees se opwindende “Velddraf met woorde”.

Die woord, fees en gees word Sondag (12 Oktober) met die gewilde pretdraf gevier. Dis ‘n unieke viering van Afrikaans in beweging. Hier draf of stap deelnemers nie met ‘n nommer nie, maar ‘n woord.

Elke deelnemer kry ‘n Afrikaanse tongtrippelterm as registrasienommer. Dalk is jy “holderstebolder”, “spoedvraat”, “agteros” of “slampamper”. Dis ‘n viering van die bekkigheid van Afrikaans, waar taal in ‘n vrolike veldwedloop voete kry.

Deelnemers kan kies om deel te neem aan die Vastrap (10 km) of die Japtrap (5,9 km) by die die pragtige KleinBlou-Klip-plaas, net bokant Paradyskloof in Stellenbosch, met pragtige uitsigte oor die Helderberg, Tafelberg, Simonsberg en Stellenboschberg.

Die Velddraf is vir die pret en plesier en vir die taal, dus sal geen amptelike tye geneem word nie. ‘n Prysuitdeling met podiumpryse vir die eerste drie deelnemers (mans en vroue) asook die oudste en jongste deelnemer word wel gehou. Al maak jy teen ‘n slakkepas klaar, kan jy ook dalk iets tydens geluktrekkings wen en elke deelnemer ontvang ‘n spekboompie as medalje.

Laat die woorde soos klippies in jou mond rondrol en dink solank wat vir jou die mooiste en lekkerste woord in Afrikaans is. Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) gaan by die Velddraf wees as jy belangstel om jou gunstelingwoord te borg.

Wees ‘n rakker, ‘n vasbyter en kom bokappel tussen die wingerde deur. Jy en jou konfraters kan te voet kom polmesarie hou. Of, soos jy dalk sou sê: Bring jou pelle, huppel deur die lande en kom hou partytjie op die plaas.

Registrasie vir vooraf inskrywings deur Quicket begin om 07:00. Die 10-km-Vastrap begin om 08:00 en die inskrywingsfooi is R150. Die 5,9-km-Japtrap begin om 08:15 en die koste is R100 per persoon. Inskrywings op die dag is beskikbaar teen ‘n ekstra administrasiefooi van R50. Slegs 500 drawwers kan inskryf en geen inskrywings sal op die dag beskikbaar wees as dit aanlyn uitverkoop is nie.

Alle pryse word deur EasyEquities geborg. Wenners ontvang beleggingsgeld om in ‘n EasyEquities-rekening te belê: Die drawwer in die eerste plek wen R3 000 se beleggingsgeld; tweede plek wen R2 000 se beleggingsgeld; en derde wen R1 000 se beleggingsgeld. Beleggingsgeld is geldig vir drie jaar. ‘n Spesiale Louis Massyn-prys wag op die oudste deelnemer, en ‘n verrassingsprys op die jongste.

Monarch Coffee Cartel sal van 07:00 af regstaan vir die opwarming met koffie en happies en parkering is by die Vriesenhof-wynlandgoed beskikbaar. ‘n Pendeldiens ry tussen Vriesenhof en die KleinBlouKlip-plaas.

• Besoek gerus www.woordfees.co.za vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article