Drie mans het verlede Vrydag in die Hermanus-landdroshof verskyn in verband met die moord van ’n man wie se liggaam by Rotary Way gevind is.
Kapt. Edmund Abels, die waarnemende hoof van die Hermanus-polisie se speurtak, het bevestig die drie mans is in hegtenis geneem en het in die hof verskyn. Volgens ’n polisiewoordvoerder is een van die mans van moord aangekla en die ander twee weens die onwettige besit van ’n vuurwapen.

“Die verdagtes het Vrydag (13 Oktober) in die hof verskyn en die saak is vir ’n borgtogaansoek uitgestel. Al drie verdagtes bly in aanhouding,” het die woordvoerder gesê. Dié aanklagte spruit uit die onlangse moord op De Necker van Schalkwyk. Dié 28-jarige se liggaam is op 11 Oktober vroeg die oggend gevind nadat hy die vorige dag as vermis aangemeld is.
Kol. Luthando Nosilela, die bevelvoerder van die Hermanus-polisie, het bevestig die oorledene is as vermis aangemeld toe hy nie teruggekeer het huis toe nie. “Hy het gesê hy gaan na ’n vulstasie toe, maar toe hy ure later nog nie teruggekeer het nie, en sy selfoon afgeskakel was, is hy as vermis aangemeld,” het Nosilela gesê. Van Schalkwyk se voertuig is ná ’n uitgebreide soektog verlate op Rotary Way gevind.
“Speurders het Woensdag na die toneel teruggekeer waar die voertuig gevind is. Hulle het ná ’n verdere soektog op die man se liggaam nie ver daarvandaan nie afgekom. Die oorledene het ’n skietwond gehad, maar geen vuurwapen is op die toneel gevind nie.
“Die polisie ondersoek ’n saak van moord,” het Nosilela bevestig. Van Schalkwyk, wat ’n paar maande gelede van Makhado (Louis Trichardt) in Limpopo na Hermanus verhuis het, se dood het gemengde reaksie uitgelok – terwyl sy geliefdes sy dood betreur, vrees ander dat dit (sy dood) hul finansiële ondergang kan beteken.
Die Zoutpansberger, ’n gemeenskapskoerant in Makhado, het op 30 Junie berig Van Schalkwyk was na bewering die meesterbrein van ’n beleggingskema wat klante ’n maandelikse terugbetaling van 10% op hul belegging belowe het. Die advertensie van MakaTrade lui: “Ontvang ’n maandelikse opbrengs van 10% … Terugbetaling van belegging binne 30 werksdae … Ontvang maandelikse rente … Risikogedeelte behels net 5% van die belegging.” (Besoek https://www.zoutpansberger.co.za/articles/news/58488/2023-06-30/financial-genius-or-ponzi-boss om die berig te lees.)
Beleggers het volgens berigte vas geglo Van Schalkwyk het die sogenaamde “Midas touch” ten spyte van die feit dat die beleggingskema as ’n Ponzi-skema bestempel is. Volgens die Zoutpansberger het Van Schalkwyk nie oor die nodige magtiging beskik om beleggings vir lede van die publiek te doen nie. Hy het in ’n onderhoud met die Zoutpansberger gesê hy genereer die winste deur aanlyn verhandeling op verskillende internasionale beurse.
“Nadat die koerant oor die skema verslag gedoen het, het Van Schalkwyk laat weet hy is in die proses om sy registrasie by die Finansiëlediensteraad (FSB) in orde te kry. Hy sou die nodige eksamens in Julie aflê, wat hom in staat sou stel om die proses te begin om akkreditasie te kry,” het die Zoutpansberger berig.
Mense wat geld by Van Schalkwyk belê het, het die Hermanus Times verlede week gekontak om navraag oor sy dood te doen. “Mense wat geld belê het, is diep in die moeilikheid, want sommiges het lenings aangegaan om by hom te kan belê. Hy was veronderstel om geld uit te betaal, maar hy het nie,” het een man verslae gesê.
In ’n inskrywing op van Schalkwyk se ma, Adri de Necker, se Facebook-blad skryf een man dat Van Schalkwyk se sukses jaloesie aangeblaas het “by die HONDE wat ’n teiken op sy voorkop geplaas het ’n klompie maande terug”.
Die skrywer sê voorts: “Ek glo en vertrou dat elkeen van daardie HONDE wat betrokke was, by die swartsmeer van sy naam, en wat verantwoordelik was om hom ’n openbare teiken te maak vir opportunistiese moordenaars, op (die) een of ander (tydstip) gaan moet antwoord oor sy of haar betrokkenheid by jou kind se moord.”
De Necker het in ’n roerende huldeblyk aan haar seun gesê: “Dankbaar ek het die voorreg geken om vir jou Mamma te wees. Jy sal jou plek in my diepste siel volstaan totdat ek jou weer kan vashou, my Babaseun.
“Ek is lief vir jou, De Necker; jy is deel van my ‘siels-tassie-goeters’ waarmee ek hierdie wêreld sal groet . . . Rus op jou regteroor dat geen ‘geraas’ jou pla nie. Ek sal jou kom wakker maak. Sien gou-gou weer!”. ’n Gedenkdiens word Vrydag in Makhado gehou.


