Wou jy nog altyd predikant word? Ek het altyd gedroom dat ek medies gaan studeer, maar in die middel van my matriekjaar in 1985 in Rustenburg, het ek die diepe oortuiging gekry dat ek predikant wil word.
Wanneer het jy Caledon toe gekom en waar was jy voorheen? Ek het in 1993 in Goodwoodpark begin. In 2004 is ek Saldanha toe en van 2012 af was ek in Caledon, waar ek die eerste keer ’n hoofsaaklik landbougemeente ervaar het.
Vertel ’n bietjie oor jou tyd hier in Caledon? As ek ’n opskrif aan my tyd hier moet gee, dan is dit ’n groot stuk dankbaarheid vir twee kollegaskappe met Jannie Hougaard en Dewald du Toit – dankbaar oor hoe ons lewens verryk is deur dié gehaltemense; die gasvryheid; die omgee; die hartlikheid. Dit sal my altyd bybly. Dit is seker ook die grootste deel van ’n mens se verlies dat ’n mens moet afskeid neem van ’n klomp pragtige mense. Ek is dankbaar oor die afgelope vyf jaar se pad rondom dissipelskap; oor die Koninkrykstaal wat Dewald en ek vir die gemeente kon leer. Ek beskou dit as genadetyd.
Wat was van jou hoogtepunte hier in Caledon? Gewis die oorgangstyd om saam met ’n kollega sy bedieningspad te kon afsluit en om saam met ’n ander kollega ’n nuwe bedieningspad te kon begin. Ek dink ook dat ons eredienste kindervriendelik geword het. Klein kindertjies voel tuis in die gemeente. ’n Groot hoogtepunt was dat ons ’n nuwe kerksaalsentrum kon bou. Dit is iets wat ’n enorme uitwerking op die gemeenskap het. Hierdie saal moet groot waarde vir die gemeenskap toevoeg. Dan het ek ook kosbare vriendskappe gesmee wat lewenslange vriendskappe sal bly.
Jy begin in 2022 as leraar by die Stellenbosch-Wes-gemeente. Hoe voel jy daaroor? Ek is om verskillende redes opgewonde om Stellenbosch toe te gaan. Om op 54 jaar ’n nuwe geleentheid te kry, beskou ek weer eens as genadetyd. Ek ken Stellenbosch nie eintlik nie, maar sien uit daarna om nog ’n nuwe stuk verryking te beleef. My nuwe begin daar word ook weer ’n geleentheid vir ’n nuwe begin hier vir iemand.
Wat is jou belangstellings/stokperdjies? Ek hou van bergfietsry en speel graag gholf. Ek is baie lief vir tuinmaak, want ek voel ek kan my daar uitleef. Ek hou ook van lees – nie net as stokperdjie nie, maar om as dominee my brein fiks en denkend te hou.
Wat is jou boodskap aan die Caledon- gemeente? Ek wil hulle herinner hierdie gemeente is deel van die Here se Koninkryk. Hy is die Hoof. Hy bly die Hoof. Hy is getrou en Hy sorg. Ek gaan met ’n ligtheid in my gemoed en met ’n lekker hart hier weg. Dit gaan eintlik oor dankbaarheid – dankbaar vir die genade om deel van hierdie familie te kon wees.
Hermanus Times
het met ’n paar mense oor hul tyd saam met Theron gesels.
Dewald du Toit, medeleraar van Februarie 2016 af, sê: “Dit was vir my heerlik om skouer aan skouer die Here te kon dien. Ons het baie lekker saamgewerk. Ons het verskillende persoonlikhede, en tog gaan dit oor God. Hy is ’n kollega en vriend wat ek baie gaan mis, maar die lekkerte is dat ons steeds kontak sal kan hou. Om in Caledon te kyk waar ons die Here se liefde kon bring, was gewis ’n groot voorreg.”
Cornelia Crocker, terreinbestuurder by die Moederkerk, sê: “Ek en Marinus het baie goed saamgewerk. Hy was altyd bereid om te help, veral as ek vrae oor die tuin of terrein gehad het. Ek gaan hom gewis mis, maar die Here het ’n doel daar met hom in Stellenbosch, en ek gun hom dit.”
Brian Oliver, wat baie nou saam met Theron by Heidehof gewerk het, sê: “Met ’n gesig wat altyd skitter, ’n breë glimlag en ’n hand wat altyd uitstrek om te groet en te gee – só sal ek ds. Marinus Theron onthou. Sy leefstyl en nalatenskap is gevestig in Caledon se gemeenskap, en dit is vir ons om dit deel te maak van ons leefwyse en Christenskap. My groete en seënwense vergesel hom, sy gade en hul gesin.”