Een van die stigterslede van Knoflokskraal buite Grabouw is verlede week gevonnis nadat hy aan die verkragting van ‘n 13-jarige skuldig bevind is.
Eric Ntabazalila, die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se woordvoerder in die Wes-Kaap, het bevestig dat Richard Isaacs Dinsdag 23 September in die Somerset-Wes-streekhof verskyn het om gevonnis te word nadat hy aan verkragting skuldig bevind is.
Die saak teen Isaacs, wat volgens berigte een van die eerste mense was om grond te beset en strukture op te rig op die perseel wat nou as Knoflokskraal bekendstaan, spruit uit ‘n voorval in Julie 2021 in Genadendal. Hoewel hy skuld ontken het, is hy onlangs op die aanklag van verkragting skuldig bevind.
Isaacs is ná sy inhegtenisneming op borgtog vrygelaat, maar is sedert sy skuldigbevinding in aanhouding. Die Caledonse eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe het die ondersoek behartig. Isaacs het vir sy vonnisoplegging op 30 September weer in die hof verskyn.
Volgens Ntabazalila is lewenslange gevangenisstraf opgelê. “Die NVG verwelkom die vonnis en prys die ondersoek- en vervolgingspan, wat hul bes gedoen het om te verseker dat geregtigheid sal seëvier. Alle gevalle van seksuele geweld maak inbreuk op die reg op waardigheid en privaatheid van die slagoffers soos vervat in ons Grondwet; daarom sal die NVG hulle aggressief vervolg,” het Ntabazalila gesê.
Isaacs was ook in 2023 in die nuus nadat hy glo die k-woord gebruik het nadat hy met ‘n gronddispuut verbind is. Gerugte het die ronde gedoen dat hy grond op Knoflokskraal aan swartmense verkoop het. In ‘n stemboodskap het hy op ‘n gemeenskapsgroep die k-woord telkemale gebruik.
Die taakspanleier van Knoflokskraal, Jochue Samuels, het die volgende oor Isaacs se vonnisoplegging gesê: “Die Knoflokskraal-gemeenskap erken met diepe kommer die onlangse skuldbevinding van ‘n stigterslid op ‘n aanklag van seksuele misdryf. Hoewel hierdie bevinding ontstellend is,wil ons bevestig dat geen individu se optrede die kollektiewe kultuur, identiteit of integriteit van ons gemeenskap definieer nie.
Knoflokskraal is as ‘n lewende uitdrukking van inheemse herstel gestig – ‘n plek waar kultuur, genesing en selfbeskikking gelei word deur die beginsels van waardigheid, respek, aanspreeklikheid en beskerming van die kwesbares.”
Samuels wil dit ook duidelik stel dat die waardes van die Knoflokskraal-gemeenskap die kern van die gemeenskap bly. “Die kulturele identiteit van Knof- lokskraal is gewortel in antieke Khoi-tradisies van kollektiewe leierskap en herstellende geregtigheid. Hierdie waardes oortref enige [individu] en lei steeds ons ouderlinge, leiers en lede in elke besluit wat ons neem.”
Volgens die taakspan is dit ook belangrik om te besef dat ‘n onderskeid tussen persoonlike gedrag en gemeenskapsidentiteit bestaan. “Die optrede van ‘n individu – veral dié wat morele of wetlike standaarde skend – is nie verteenwoordigend van die kulturele mandaat of morele grondslag van Knoflokskraal nie.
“Ons respekteer ook die behoorlike proses van die reg en erken die belangrikheid van verantwoordbaarheid. Die Knoflokskraal-leierskap herbevestig sy verbintenis tot die skep van ‘n veilige omgewing vir alle lede – veral vroue, kinders en kwesbare mense – in pas met tradisionele reg en nasionale menseregtebeginsels.”
Hulle wil ook graag ‘n beroep op die gemeenskap doen om hulle as inheemse kulturele beweging te erken. “Ons reis na erkenning en herstel word nie deur die optrede van enigiemand gedefinieer nie, maar deur die gedeelde gees van geregtigheid, waarheid en vernuwing wat ons bind.”





