Eers pla Covid; nou beurtkrag

Stel jouself voor – ons is in die 21ste eeu, ons is afhanklik van elektrisiteit en water en jy maak staat op basiese dienste. Maar die tegnologie faal jou en jy moet alternatiewe planne maak om dié dienste te bekom.


Stel jouself voor – ons is in die 21ste eeu, ons is afhanklik van elektrisiteit en water en jy maak staat op basiese dienste. Maar die tegnologie faal jou en jy moet alternatiewe planne maak om dié dienste te bekom.

Dit is wat inwoners van die Overberg in die gesig staar nadat beurtkrag twee weke gelede weer ingestel is en dit lyk asof geen lig aan die einde van die Eskom-tonnel gaan verskyn nie.

Dit is egter veral leerders wat swaarkry en as jy kyk na die matriekeksamen wat op hande is, is menige ouer bekommerd oor wat die impak van beurtkrag op die eindeksamen gaan hê.

Soos een van die onderwysers tereg opgemerk het, was dinge verlede jaar en die jaar voor dit reeds uitdagend weens die Covid-19-pandemie, wat dit vir matrieks moeilik gemaak het, aangesien hulle weens die grendeltyd nie op skool was nie, en nou is dit beurtkrag.

Tog is daar barmhartige samaritane wat ná skole uitreik, soos Ryno Viljoen, die uitvoerende hoof van FinGlobal, en Niel Mulder van Buco in Hermanus.

“Ons het verlede week ’n oproep van Viljoen gekry om te hoor wat die skool gaan doen om die matrieks en graad 11-leerders gedurende die eksamentyd by te staan as daar beurtkrag is. Wat ’n eenvoudige vraag was, het in ’n tameletjie ontaard. Vir sommige van ons beteken dit ons sal weer ons kragopwekkers moet aansit of hoop en bid dat die omskakelaars se batterye hou. Ons skedules moet ook aangepas word sodat dit by Eskom se beurtkrag pas,” het ’n woordvoerder van die skool vertel.

“Die werklikheid is dat sommige leerders by kerslig of selfs by die liggie van ’n selfoon moet studeer. Dit kan ’n direkte invloed op jou toekoms hê as jy dalk verder wil gaan studeer.”

Die skool het Buco gekontak oor herlaaibare LED-lanterns en Niel Mulder het na hulle teruggekom met ’n prys en ’n oplossing. Mulder het voorgestel dat Magneto-ligdiode-lanterns gebruik word, wat nie net vir 60 ure kan hou nie, maar ook ’n USB-sok het om selfone te herlaai.

“Ons het die idee aan Viljoen voorgelê en FinGlobal, tesame met Buco, het 100 LED-lanterns aan ons geskenk. Ons is besig met assessering om seker te maak dat geen leerder aan die kortste ent gaan trek nie,” het die woordvoerder gesê. “Ons is baie dankbaar vir die skenking.”

Maar wat doen ander skole om die probleem te oorkom?

Van die skole en ouers met wie Hermanus Times gesels het, sê dit is ’n groot probleem en kan ’n massiewe invloed op die leerders se prestasies hê. “Ons skool vra nie skoolgeld nie en ons het baie behoeftige leerders. Ek is veral bekommerd as die leerders RTT moet skryf en daar is beurtkrag. Ons skool het nie ’n kragopwekker nie,” het Adrienne Delport, die hoof van Swartberg Sekondêr, gesê. “Ons kon klaar die invloed wat beurtkrag in die September-eksamen op ons leerders gehad het, sien. Van die leerders bly in hutte of strukture waar geen alternatiewe manier bestaan om krag te kry nie, dan moet hulle by kerslig studeer.”

’n Ouer wat nie haar naam wil noem nie, het haar kommer oor die situasie uitgespreek. “Met die Covid-19-pandemie het leerders wat nie rekenaars het nie, nie die geleentheid gehad om klasse aanlyn by te woon nie en take te doen nie. En nou dié struikelblok. Ons is besig om ’n geslag te skep wat nie kennis gaan hê nie, en dit oor probleme buite die leerders en ouers se beheer,” het sy gesê.. Enigiemand wat graag ’n skenking wil doen vir LED-lanterns of kragopwekkers vir behoeftige skole, kontak die Hermanus Times-kantoor by 028 312 3717 en vra om met Mariëtte Strydom te praat.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.