Renaldo Matthee (25) en Arno Neethling (29), wat in die Caledon-distrik boer, ken van trekker ry en die plaaslewe. Maar hierdie twee gesoute jong boere verruil gereeld hul trekkers en stewels vir duik-bootiesen ’n boot om vir die gesogte Trans Agulhas-rubberboot-wedvaart te oefen.
Albei boer voltyds, maar dit keer hulle nie om ten minste een keer per week die lang pad na Struisbaai of Hermanus aan te pak om op hul boot op die see uit te gaan en te oefen nie.
“As dit reën en ons is nie op die plaas besig nie, gaan oefen ons, al is die see onstuimig. Hopelik is daar ’n rowwe dag of so tydens die Trans Agulhas sodat dit in ons guns kan tel,” sê Renaldo.
Die wêreldbekende wedvaart, sê Renaldo, het sy belangstelling van jongs af geprikkel omdat hy “van kleintyd af ’n petrolkop en adrenalien-junkie” is.
Dinge het sedert verlede jaar uiteindelik vir hom en Arno reg begin val en hulle het volstoom begin oefen om gereed te wees vir die Trans Agulhas, wat op 28 Desember in Plettenbergbaai begin en op 31 Desember by die Strand eindig. Dié wedvaart strek oor vier dae, waarin deelnemers 700 km met hul rubberbote aflê.
Hul voorbereidings het verder ’n hupstoot gekry toe Renaldo ’n boot gekoop het by iemand wat voorheen aan ’n wedvaart op die Theewaterskloofdam deelgeneem het. Renaldo self het ook aan hierdie ren deelgeneem en goed gevaar. Arno erken hy is ’n groentjie wat nog nie aan enige groot wedvaart deelgeneem het nie, maar dit skrik hom glad nie af nie.
Arno en Renaldo het ook gaan kers opsteek by kenners soos Dreyer en JD van Niekerk, wat ook in die Caledon-distrik boer en voorheen aan die Trans Agulhas deelgeneem het. “Ons doen baie navorsing – veral oor die tegniese aspekte,” vertel Renaldo. “Buiten die enjin is die skroefdie belangrikste; jy moet die weerstoestande kan lees om te bepaal watter soort skroefom te gebruik, want jy mag net een skroefvir die hele skof van die dag gebruik.”
Die aspekte van die wedvaart waarna hy die meeste uitsien, vertel Arno, is die adrenalien van hul deelname, om nuwe mense te ontmoet asook die nuwe ervaring.
“Ek dink ons kanse is goed, want ons werk goed saam, ons al twee het goeie uithouvermoë en ons hou van spoed.”
Hoewel dié twee kliphard oefen om hierdie droom ’n werklikheid te laat word, kort hulle dringend nog borge om hul uitgawes te help dek.
Die inskrywingsfooi is R13 000, petrol-uitgawes vir die boot en twee voertuie van die ondersteuningspan word geskat op R9 700 en verblyf op R9 000. R4 000 is vir maaltye vir die span begroot. Hulle kort dus altesaam R35 700 vir hul uitgawes.
Die onkoste van “branding” vir die borge, sê Renaldo, moet nog bepaal word. Daarbenewens moet Arno en Renaldo ook duikpakke en -stewels, valhelms, handskoene, die nodige veiligheidstoerusting en ekstra petrol en onderdele vir die boot hê. Hulle sal ook gazebo’sen T-hemde vir die span hê met die borge se kentekensdaarop. Die span gaan ook ’n voertuig met ’n sleepwa hê waarin hulle gaan slaap en die ekstra onderdele berg. Van die borge wat reeds aan boord gekom het, is Strandkloof-woonwapark, Tsogo Sun Caledon, JF Hersteldienste, die Malkoppan-gasteplaas en Muisbosskerm Restaurant, Merry Jane, Keerom Skeer en Scan en Basson en Seuns Vervoerdienste.
Mense kan ook die span ondersteun deur kaartjies vir ’n gelukstrekking met opwindende pryse op die spel teen net R50 per kaartjie te koop. ’n Geslagte skaap van R2 500, ’n kampeernaweek vir vier by Malkoppan in Lambertsbaai en ’n ete vir vier by die wêreldbekende Muisbosskerm is op die spel.
Besoek die span se Facebookblad by Trans Agulhas S28 en Instagram-profiel by https://scnv.io/AmPw?qr=1 vir meer inligting. Die wenners word op 10 Desember om 18:00 aangekondig. . Sakelui wat die span wil borg, kan Renaldo by 060 963 5567, Arno by 078 188 6176 of Rudi Coetzee, by 082 781 3967 bel.


