Hy is geliefd in sy gemeenskap en oor die Overberg heen en hy maak ‘n verskil oral waar hy gaan.
Vir Dirk Jantjies van Bredasdorp was dit meer as net ‘n eer toe die Kaap Agulhas-munisipaliteit ereburgerskap aan hom toegeken het ter erkenning van sy buitengewone nalatenskap van openbare diens.
“Die besluit is op ‘n spesiale raadsvergadering Donderdag 30 Oktober geneem wat raadsheer Jantjies die heel eerste ereburger van die munisipaliteit maak,” het ‘n woordvoerder van die munisipaliteit gesê.
Die eerbewys is Saterdag 1 November ter viering van Jantjies se 30 jaar diens as raadslid tydens ‘n viering by De Heide Primêre Skool in Bredasdorp oorhandig. Hy dien tans as die wykraadslid vir wyk 2 en is die langsdienende raadslid in Suid-Afrika.
In ‘n diep roerende oomblik het eerw. dr. Heinrich Jantjies, Jantjies se seun, die woorde op die sertifikaat hardop voorgelees. Die burgemeester van die KAM, Raymond Ross, die speaker, Derick Burger en die waarnemende munisipale bestuurder, Hendrik Krohn, het die sertifikaat van ereburgerskap aan Jantjies oorhandig.
“Die munisipaliteit se besluit om hierdie eer toe te ken, is gegrond op sy bevoegdhede ingevolge Artikel 156 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika (1996) en die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture, 1998 (Wet Nr. 117 van 1998), wat munisipaliteite bemagtig om individue te erken wat uitsonderlike bydraes tot die welsyn van hul gemeenskap gelewer het. Hierdie mylpaal vier nie net Jantjies se persoonlike prestasies nie, maar stel ook ‘n belangrike voorbeeld vir die erkenning van uitnemendheid in plaaslike regering en gemeenskapsleierskap,” het Ross gesê.
Volgens Jantjies, wat al amper ‘n halfeeu in dieselfde huis in Bredasdorp woon, is dit ‘n geweldige eer wat hom te beurt geval het. “Ek is op 29 Desember 1952 hier in Bredasdorp gebore en het by my ouma Hanna grootgeword. In 1961, met die Groepsgebiedewet, is ons uit die buurt waar ons gewoon het, uitgesit en my ouma het geen ander heenkome gehad as om Elim toe te gaan om by haar suster te gaan bly nie. Ek was maar net agt jaar oud en moes saam,” vertel hy. Volgens hom het hy op 16-jarige ouderdom na Bredasdorp teruggekeer en is nie een oomblik spyt oor sy grootwordjare nie.
“Dit is my grootworddorp, my huis en my hart. Ek sou nooit kon droom dat ek op 1 November, 65 jaar later, die ereburgerskap van Kaap Agulhas sou ontvang nie. Ek het dit nooit verwag nie en dit is vir my ‘n baie groot eer.”
Jantjies het groot drome vir Kaap Agulhas en een daarvan is om die mense op te hef. “My droom vir Kaap Agulhas is om die lewensomstandighede verder te verbeter deur ons mense ekonomies te bevry,” het hy afgesluit.


