Nadine Hull veg moedig haar kankerstryd. Foto: Charné-Mienke van DC Fotografie


Dis ’n storie van hoop; ’n storie wat jou hartsnare sal roer en ’n storie wat jou bewus gaan maak dat Hermanus steeds ’n omgeedorp is.

Nadine Hull kom glimlaggend die kantoor binnegestap. Uit die staanspoor sal jy nooit kan sê dat dié merkwaardige vrou ’n kankerstryd voer nie, want sy groet glimlaggend, en die dankbaarheid straal sommer uit haar gesig.

Nadine voer ’n moedige stryd teen borskanker en vertel hoe haar reis verlede jaar begin het. “Ek het agtergekom iets is fout met my een bors – my bors was nie net baie geswel en rooi nie, maar ook gevoelig,” vertel sy. Wat interessant is, is dat die eerste biopsie niks onthul het nie, maar met die tweede biopsie het die dokters bevestig sy het kanker in haar linkerbors.

“Die borskanker is op 12 Julie 2021 by my gediagnoseer. Ek het op 15 Julie albei my borste verloor en die dokters het aanbeveel dat ek dadelik met chemoterapie moet begin,” vertel sy. “Ek het gevra of ons dit nie net vir twee weke kan uitstel nie, want dit is baie wat ek moes verwerk.”

Sy het 12 sessies bestraling gehad en het vir ses maande intensiewe chemoterapie ondergaan.

“Dit was vir my skokkende nuus. Soveel goed gaan deur jou gedagtes – jy is kwaad, hartseer, optimisties en dan weer teen die grond. Maar ek het geleer veg, en ek veg steeds. Ek kry krag van die Here en bly hoop – veral vir my seun.”

Nadine, wat voor haar diagnose by een van Kindersorg se kleuterskole as kok gewerk het, gee nie moed op nie. “Dis hierdie maand Borskankerbewusmakings­maand en ek wil graag vir almal wat die kankerstryd voer, sê: Moenie moed opgee nie.

“Wanneer kanker by jou gediagnoseer word, is dit nie ’n doodsvonnis nie; dis nie die einde nie. Solank jy veggees in jou het, kan jy kanker baasraak.”

Nadine sê sy wil graag tydens die Borskankerbewusmakings­maand vroue en selfs mans vra om hulself te ondersoek. “Jy ken jou eie liggaam. As iets nie reg lyk nie, gaan dadelik dokter toe. As jy stort, voel jou borste, en as jy iets ongewoon opmerk, gaan dadelik vir ’n ondersoek.”

Nadine, wat oorspronklik van Hawston is en deesdae in Mount Pleasant woon, wou graag ’n fotosessie hê waar sy vir haarself en ander mense kan wys dat sy steeds mooi voel – al het sy nie meer borste nie. “Borste definieer nie jou as vrou nie; dis nie wat jou mooi maak nie; dis nie wie jy is nie,” vertel sy hartseer.

Haar droom vir ’n fotosessie het ’n werklikheid geword toe sy Charné-Mienke Prins van DC Fotografie raakgeloop het.

“Ek het haar by ’n fotosessie raakgeloop en gevra of sy nie sal belangstel om my af te neem nie,” sê Nadine.

Charné vertel opgewonde dié versoek was net ’n bevestiging van dit wat sy vir die Here gevra het. “Ons logo is Capture real and heartfelt moments create lifelong memories, en ek het die Here gevra om iemand oor my pad te stuur wat ons slagspreuk sal uitleef,” vertel Charné. Sy het dadelik met haar man oor die versoek gepraat en Nadine met ’n gratis fotosessie geseën.

“Om borskanker te kan oorwin, is iets om op trots te wees, en ek dink baie moedelose mense dink dis die einde. Ons almal ken die seer en pyn van iemand wat hulle dalk deur kanker verloor het of iemand wat op die oomblik deur ’n kankerstryd gaan. Ek het self ’n ouma aan borskanker verloor; dis waarom die photoshoot vir my so spesiaal was,” vertel Charné.

Charné het ingespring en plaaslike sakeondernemings het almal handjie bygesit om die fotosessie vir Nadine onvergeetlik te maak. “LOU Make Up Artistry, Lilly Rose Florest, Frances van Auberge en Sweet Love het almal bygedra om Nadine nie net mooi te laat lyk nie, maar dit vir haar ’n onvergeetlike dag te maak. Ek wil graag almal bedank wat gehelp het,” het Charné gesê.

Oor die foto’s vertel Nadine: “Ek kon nie glo toe ek die foto’s sien nie. Ek het vir myself beautiful gelyk. Ek kan net vir Charné en almal dankie sê vir wat hulle vir my gedoen het. Ek veg voort. Die kanker het na my bene versprei, maar ek is steeds hier, ek het die eerste battle gewen.”

You need to be Logged In to leave a comment.