Duurder water, elektrisiteit en munisipale dienste wag op inwoners van die Theewaterskloof-munisipaliteit (TWK).

Die munisipale raad het die 2022-’23-konsepbegroting verlede Woensdag (30 Maart) bekend gestel.

Die voorgestelde munisipale tariewevir water (basiese heffing) styg met 8%. Vullisverwydering sal belastingbetalers ook 4,6% meer uit die sak jaag.

Riooldienste styg ook met 4,6%.

Die tarief wat egter inwoners se sakke die meeste gaan ruk, is die voorgestelde styging van 13% in elektrisiteitspryse.

Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) moet egter steeds dié verhoging goedkeur.

Die TWK-munisipaliteit se burgemeester, Kallie Papier, het beklemtoon dat dit nie die finale begroting is nie en nooi die inwoners en verteenwoordigers om kommentaar oor die begroting te lewer. “Ek moet erken dat die voorbereiding rakende die konsepbegroting baie moeilik was aangesien ons termyn eers in November 2021 begin het en die meeste van die openbare en departementele insette was reeds in die konsepbegroting ingesluit. Die probleme en uitdagings rakende dienslewering teenoor die beperking op basiese inkomste is bekend aan ons, maar die sleutel tot sukses is om ’n balans te vind en dit dan oor die mediumtermyn-inkomste en -uitgawes (MTREF) van drie jaar te implementeer,” het Papier gesê.. Die volledige konsepbegroting kan op www.twk.org.za verkry word.

You need to be Logged In to leave a comment.