Een van die mans wat teregstaan weens die moord op Charlene October in Julie 2021 in Elim is na ’n onbekende plek verskuif nadat hy dreigemente in die tronk ontvang het.
Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap, het bevestig dat Tashwell van der Rheede kort ná sy aankoms by ’n tronk in Kaapstad gedreig is om “die saak op homself te neem” – met ander woorde om verantwoordelikheid vir die misdaad te aanvaar – of sy lewe te verloor.
“Die beskuldigde het Maandag 22 Augustus aan die hof bekend gemaak dat hy van plan is om te getuig. Hy is gerieflikheidshalwe na die Goodwood-gevangenis verskuif en daardie aand is hy gedreig dat hy sy lewe sou verloor indien hy dit nie doen nie. Hy is sedertdien na ’n ongeïdentifiseerde plek verskuif,” aldus Ntabazalila.
Van der Rheede het ná sy inhegtenisneming ’n verklaring afgelê waarin hy verskeie bekentenisse gedoen het. Hy is saam met die slagoffer se gewese man, Ashley October, van haar moord, sowel as huisbraak met die doel om te roof en moord te pleeg, roof met verswarende omstandighede en regsverydeling aangekla.
October word ook deur twee aanklagte van opsweping tot moord en sameswering tot moord en roof in die gesig gestaar.
Sy advokaat, Dorian van Zyl, het aan Hermanus Times bevestig hulle sou Maandag ’n aansoek om ontslag in die hof bring. “Ons glo die bewyse wat voor die hof geplaas is, is nie genoeg om ’n skuldigbevinding te verseker nie,” het Van Zyl verduidelik.
Indien die hof in Van Zyl se kliënt se guns bevind, beteken dit October sal onskuldig bevind en ontslaan word. Die staat het aangedui dat hy die aansoek sal teenstaan. Die aansoek is egter nie Maandag aangehoor nie omdat Van der Rheede se advokaat, Omar Arend, siek was. Die saak is tot Donderdag 1 September uitgestel.