Elim-moord: Ergste vrese toe waar

Nuwe inligting rakende die Elim-moord skok familie


“Ek voel my lewe is in gevaar, want ek weet nie tot wat hy in staat is nie.” Só lui ’n verklaring wat in 2012 deur Charlene October gemaak is nadat sy ingelig is dat Ashley October, die man met wie sy in daardie stadium steeds getroud was en wat nou teregstaan vir haar moord, na bewering iemand genader het om haar te vermoor.

Charlene se ergste vrees het nege jaar later waar geword. October, van wie sy in 2015 amptelik geskei is, en Tashwell van der Rheede is in verband met haar moord in Julie 2021 aangekla. October staar aanklagte van sameswering tot moord en opsweping tot moord en roof in die gesig. Die klag van opsweping tot moord hou verband met ’n voorval in 2011 toe October na bewering vir Ashley Kerr genader het om Charlene, wat toe nog met hom getroud was, te vermoor. Kerr het glo geweier om dit te doen. Volgens die staat het October ook in 2012 met Reagan Zietsman saamgesweer om Charlene te vermoor. Kerr sowel as Zietsman, wat twee lewenslange vonnisse vir die sesjarige Delvinia Europa se moord en verkragting in 2019 uitdien, het in dié verband getuig.

Volgens Zietsman se verklaring, wat hy in 2012 afgelê het, het October aangebied om hom R30 000-R40 000 vir die moord te betaal. Die geld sou glo wees van ’n polis wat binne 24 uur ná Charlene se dood, sou uitbetaal. Die hof het gehoor dat Zietsman se moed hom egter begewe het en dat hy vir Charlene van die beweerde komplot ingelig het. Albei het toe verklarings in dié verband afgelê.

Die ondersoekbeampte, adjudant-offisier Francis Volkwyn, het verlede week tydens sy getuienis albei verklarings gelees.In Charlene se verklaring wat in 2012 afgelê is, het sy onder meer genoem dat sy ’n beskermingsbevel teen October gekry het nadat hy haar na bewering aangerand het. Daar word ook vermeld dat October na bewering gedreig het dat hy haar sou “vrek maak” of iemand sou kry om haar te vermoor.   

October en Van der Rheede is van huisbraak met die doel om te roof en vermoor, roof met verswarende omstandighede, moord met voorbedagte rade (premeditated murder) en poging tot regsverydeling (attempting to defeat or obstruct the administration of justice) aangekla. Laasgenoemde spruit uit die feit dat die beskuldigdes na bewering die tou wat gebruik was om Charlene te verwurg, aan ’n dakbalk vasgemaak het om dit te laat blyk dat sy selfmoord gepleeg het en ook goedere uit die huiswinkel op die perseel verwyder het om dit te laat lyk asof daar ’n inbraak was. Die saak sal volgende week (Maandag 22 Augustus) in die Wes-Kaapse hooggeregshof hervat. Albei beskuldigdes se borgtogaansoeke is vroeër geweier en hulle bly in aanhouding. Die hof is ingelig dat reëlings getref sal word om die beskuldigdes vir die res van die verhoor na gevangenisse in die Kaap te skuif.

You need to be Logged In to leave a comment.