Ashley October kort nadat regter Rosheni Allie hom tot lewenslange tronkstraf vir sy eksvrou se moord gevonnis het.


Ashley October (39) het emosieloos voor hom uitgestaar toe hy ’n lewenslange vonnis vir sy eksvrou Charlene October se moord opgelê is.

Regter Rosheni Allie het in haar uitspraak gesê sy kon geen versagtende omstandighede vind wat as wesenlike en dwingende omstandighede dien om van die minimum voorgeskrewe vonnis vir moord af te wyk nie. Sy het ook October se houding vir die duur van die verhoor as “selfvoldaan en gevoelloos (smug and callous)” beskryf en beklemtoon dat hy “geen berou” getoon het nie.

Allie het ook die feit dat October in 2012 skuldig bevind is aan die oortreding van ’n gesinsgeweld-beskermingsbevel as verswarende faktor beskryf.

Die feit dat sy medebeskuldigde Tashwell van der Rhede sedert sy inhegtenisneming sy samewerking gegee, erkennings gemaak en sekere uitwysings gedoen het wat tot October se inhegtenisneming gelei het, het Allie bevind, dien as versagtende omstandighede.

“Sy samewerking, openhartigheid en die feit dat hy berou getoon het, dui aan dat hy rehabiliteerbaar is,” het Allie gesê.

Van der Rheede is vyf jaar gevangenisstraf op die aanklag van roof met verswarende omstandighede, 15 jaar vir huisbraak met die doel om te roof en moord te pleeg, en drie jaar vir regsverydeling opgelê. Op die aanklag van moord is hy tot 15 jaar tronkstraf gevonnis.

Allie het gelas dat Van der Rhede se vonnisse samelopend uitgedien moet word en hom onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

Benewens die lewenslange vonnis vir sy eksvrou se moord, is October ook 10 jaar tronkstraf opgelê vir sameswering tot moord wat verband hou met die voorval in 2011 toe hy vir Ashley Kerr genader het om Charlene, wat toe nog met hom getroud was, te vermoor. Hy moet ook 15 jaar tronkstraf uitdien vir aanhitsing tot moord en roof in 2012, vier jaar vir roof met verswarende omstandighede, 15 jaar vir huisbraak met die doel om te roof en te moor en drie jaar vir regsverydeling. Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

October se advokaat Dorian van Zyl het aangedui dat hy aansoek sal doen om verlof tot appél.

You need to be Logged In to leave a comment.