Die Bredasdorp-polisie ondersoek die moontlikheid dat meer
verdagtes by die moord op ’n enkelma van Elim betrokke was.
Dié onthulling is gemaak kort nadat Tashwell van der Rheede
Dinsdag 10 Augustus in verband met Charlene October se moord in die
Bredasdorp-landdroshof verskyn het. Hy staar ook ’n aanklag van sakeroof in die
gesig in verband met die roof by die huiswinkel langs haar huis.
Hy is ook aangekla in verband met ’n beweerde verkragting
wat in 2019 gebeur het. Die polisie het bevestig dat hy in verband met die
beweerde verkragting in aanhouding was toe hy met die moord en sakeroof verbind
en daarvan aangekla is.
Van der Rheede het Dinsdag aangedui dat hy nie om borgtog
aansoek wou doen nie.
Adjudant-offisier Jakobus Marthinus, Bredasdorp-polisie se
woordvoerder, het Woensdag 11 Augustus bekendgemaak dat ’n belonging uitgeloof
word vir enige inligting wat moontlik tot verdere inhegtenisnemings in verband
met October se moord kan lei.
“Bredasdorp-polisie wil graag ’n beroep doen op enige
persoon wat positiewe inligting het wat kan lei tot verdere inhegtenisneming in
die Elim-moordsaak, om na vore te kom. Bredasdorp-speurdiens se
takbevelvoerder, kaptein Volkwyn, kan by 082 778 7381 gebel word. ’n Beloning
word aangebied vir suksesvolle vervolging,” aldus Marthinus.