Minstens nog twee mans is na bewering onderskeidelik in 2011 en 2012 deur Ashley October genader om sy vrou te vermoor.
Dit is van die skok-onthullings wat verlede week in October en sy mede-beskuldigde, Tashwell van der Rheede, se verhoor na vore gekom het.
Die verhoor het Maandag 1 Augustus in die Swellendam-landdroshof begin en word deur die Wes-Kaapse hooggeregshof behartig.
Reagan Zietsman, wat in Augustus 2020 twee lewenslange vonnisse opgelê is vir die moord op en verkragting van die sesjarige Delvinia Europa, het in boeie in die getuiebank gestaan om te getuig hoe October hom na bewering destyds verskeie kere genader het om Charlene te vermoor.
Hy is na bewering gevra om dit soos ’n huisbraak te laat lyk en/of ’n objek in haar vagina te druk om dit te laat blyk dat sy verkrag is.
In ruil hiervoor, het die hof gehoor, sou hy na bewering ’n deel van ’n polis, wat ná haar dood uitbetaal sou word, ontvang.
Ashley Kerr het getuig hy is in 2011 deur October genader om Charlene te vermoor deur by die huis in te breek, haar keelaf te sny en met ’n mes te steek.
Charlene en Ashley October was in daardie stadium nog getroud en is in 2015 eers amptelik geskei.
Charlene se liggaam is Maandag 12 Julie 2021 deur haar oudste seun, Ethan Telemachus, in haar huis in Proteastraat, Elim gevind. Haar kleindogter, wat destyds een maand oud was, is ongedeerd in die huis gevind.
Ethan het verlede week oor dié grusame ervaring getuig. Hy het by ’n vorige hofverrigting aan Hermanus Times vertel hoe hy, October en nog ander mense die dag voor sy ma se dood nog by haar huis gekuier, gelag en geëet het en hoe gelukkig sy was.
Charlene se suster Alexa (Jooste) sê om die eerste twee getuies se getuienis aan te hoor, was baie traumaties.
“Reagan Zietsman het getuig oor die 2012-voorval en hoe die saak net doodgeloop het. Sy woorde was dat die stelsel haar gefaal het en as destyds enigsins opgetree is (teen October), sou ons suster nog gelewe het. Ek en my suster, Alicia, het gebreek toe ons dit hoor, want dis die reine waarheid.
“Een van die ergste dinge om te hoor, was hoe die patoloog getuig het die moordenaar het in alle waarskynlikheid voor Charlene gestaan en die lewe uit haar gewurg,” het Alexa emosioneel vertel.
Volgens die twee susters versinnebeeld die verhoor “die begin van die einde van die lelike”.
“Ons moet die antwoorde kry om te kan heal,” het Alexa bygevoeg.
Die verhoor word vandag (Woensdag 10 Augustus) hervat wanneer die ondersoekbeampte, adjudant-offisier Francis Volkwyn, met sy getuienis voortgaan.