Een jaar en drie maande nadat Charlene October se liggaam in haar huis in Elim gevind is, is haar eks-man Ashley October en sy medebeskuldigde Tashwell van der Rheede aan haar moord skuldig bevind.
Regter Rosheni Allie het Maandag 10 Oktober, nadat albei beskuldigdes se advokate en die staatsaanklaer advokaat Leon Snyman hul slotbetoë gelewer het, in haar uitspraak gesê October en Van der Rheede is skuldig aan al die aanklagte teen hulle.
October en Van der Rheede is skuldig bevind op die volgende vyf aanklagte: huisbraak met die doel om te roof en roof met verswarende omstandighede; huisbraak met die doel om te roof en moor; roof met verswarende omstandighede; moord en regsverydeling.
October, wat nie tydens die hofsaak getuig het nie, is ook van sameswering tot roof en moord sowel as ’n aanklag van opsweping tot moord en roof skuldig bevind.
Dié aanklagte hou verband met ’n voorval in 2011 toe October, wat in daardie stadium nog met Charlene getroud was, vir Ashley Kerr genader het om haar te vermoor, asook ’n voorval in 2012 toe hy vir Reagan Zietsman genader het om sy vrou te vermoor en dit te laat lyk asof daar by die huis ingebreek en sy verkrag was.
Kerr sowel as Zietsman, wat ’n lewenslange vonnis vir die moord en verkragting van die sesjarige Delvinia Europa uitdien, het in dié verband getuig.
Regter Allie het tydens uitspraak gesê daar was geen bewyse dat Van der Rheede ten tyde van die aanval en moord in dieselfde kamer as die oorledene was of fisieke kontak met haar gehad het nie. Die prinsiep van “common purpose”, het Allie gesê, is egter van toepassing aangesien hy medepligtig was aan October se planne.
“Ek is oortuig dat beskuldigde 1 (Van der Rheede) skuldig is op gronde van gemeenskaplike doel (by virtue of common purpose),” het regter Allie gesê.
Vonnisverrigtinge begin volgende week in die Wes-Kaapse hooggeregshof in Kaapstad.