Emoji Movement, ‘n organisasie sonder winsbejag, het Saterdag 11 Oktober ‘n stap en boomdrapering deur Myddleton se strate ter bewusmaking van kanker gehou.
Hoewel Oktober Borskankermaand is, het Emoji Movement besluit om bome nie net in pienk materiaal te drapeer nie, maar ook om bome in elke straat op die roete in ‘n kleur wat ‘n soort kanker simboliseer, te drapeer. Die vrolike groep deelnemers het van die gemeenskapsaal af deur verskeie strate, waar hulle bome en pale drapeer het, na die sportterrein gestap.
Tannie Baby van der Schyff het haar kankerreis in ‘n bemoedigende boodskap met die mense gedeel, waarna Christa Myburgh en haar span van AVBOB geskenkmandjies aan ‘n groep vroue, wat hul kankerstryd oorwin het, geskenk het.
As ‘n groot verrassing vir die kinders, wat vroeër ook fluks met die drapering van die bome gehelp het, het ‘n span van die Caledon-brandweer ‘n skuim-glybaan vir die kinders opgerig. Hiérvan kon die kinders nie genoeg kry nie en hulle het omtrent baljaar.
AVBOB het die kinders met koeldrank, kolwyntjies en ‘n geskenkpakkie met lekkers bederf. Christa Myburgh sê: “Kankerbewusmaking is so belangrik. In ons werk sien ons waardeur mense wat ‘n geliefde aan kanker verloor het, gaan. Dit is ‘n saak wat ons na aan die hart lê en ons probeer maar altyd om deel van die gemeenskap te wees – om te help waar ons kan en om iets aan die gemeenskap terug te gee.”
Janine Botha van Emoji Movement sê die bewusmakingsveldtog was ‘n groot sukses. “Dit is die eerste keer dat ons so baie ondersteuning van die gemeenskap gekry het en dit was regtig verblydend. Ek is dankbaar vir AVBOB se ondersteuning, asook dié van die brandweer, die YeBoneers, lede van die Disa-dienssentrum asook die gemeenskap wat bygedra het om die dag suksesvol te maak.”





