Die bestuurskomitee van die Hermanus FynArts-kunstefees het onlangs aangekondig dat Eon de Vos as die nuwe feesdirekteur met ingang van Oktober 2025 aangestel is.
Hy volg in die spore van Mary Faure wat die fees in 2013 van stapel gestuur het en ná meer as ’n dekade se uitmuntende leierskap gaan uittree. Eon, tans stasiehoof van Fine Music Radio, was vanaf die jare tagtig ’n bekende naam op Suid-Afrikaanse radio en televisie en later ook ʼn huishoudelike gesig in programme soos Pasella, Potpourri, GMSA en Morning Live.
Op radio het hy sy uitsaailoopbaan by Radio Highveld (later Highveld Stereo) begin en later aangesluit by Radio 5 (nou 5FM) as spitsprogram-aanbieder. Benewens verskeie bestuursposisies in openbare betrekkinge en reklame by ’n vooraanstaande agentskap, het Eon ook gedien as besturende direkteur van Highveld Stereo en was hy die stigtings – besturende direkteur van Classic FM in Johannesburg.
Eon se passie vir lugvaart het hom verskeie lug-akrobatiese toekennings besorg, en hy het as senior kaptein by ’n plaaslike kommersiële lugredery afgetree voordat hy by Fine Music Radio aangesluit het.
Sedert 2013 het die FynArts-fees gegroei tot een van Suid-Afrika se voorste multi-kunstefeeste. Dit het ’n lewendige jaarlikse viering van kreatiwiteit en kultuur geword wat musiek, visuele kunste, letterkunde, kulinêre ervarings en stimulerende gesprekke saamweef. Die fees ondersteun ook ’n florerende Ontwikkelingsfonds wat in vennootskap met kunsorganisasies en onderwysinstellings werk.
Oor sy aanstelling het Eon gesê: ““FynArts het ’n hoeksteen van die Suid-Afrikaanse kultuurkalender geword, en dit is vir my ’n eer om met die volgende hoofstuk toevertrou te word. Ek sien uit daarna om saam met die toegewyde span, kunstenaars en breër gemeenskap voort te bou op Mary se buitengewone nalatenskap.”
Mary Faure het haar vertroue in die oorgang uitgespreek: “Dit was ’n groot voorreg om FynArts van sy vroegste dae af te lei. Ek glo dat Eon se kombinasie van ervaring, visie en sy diep liefde vir die kunste hom ideaal maak om die fees na sy volgende era te lei. Ek wens hom alle sukses toe.”
Die voorsitter van die FynArts-bestuurskomitee, Richard King, het Eon hartlik verwelkom in die FynArts-familie. Hy het die opregte dank van kunsliefhebbers, kunstenaars en die gemeenskap oorgedra aan Mary vir haar uitsonderlike leierskap in die omskepping van ’n beskeie kunsbyeenkoms tot een van Suid-Afrika se voorste winterfeeste – ’n viering van uitvoerende en visuele kunste, kos, musiek, film en denke.
Hoewel Mary as Feesdirekteur uittree, sal sy voortgaan om projekte vir die FynArts-ontwikkelingsfonds te bevorder en te implementeer, wat ten doel het om groei, bevordering en opvoeding in die kunste aan te moedig.