‘Eskom-werkers’ kom glo in huise en steel waardevolle besittings

‘n Nuwe slenter waar boosdoeners hul as Eskom-werkers voordoen, het nou sy kop in die Overberg uitgesteek.


Danksy die op-en-wakker-optrede van buurtwaglede en die paraatheid van ‘n inwoner is ‘n boosdoener vasgetrek wat hom as ‘n Eskom-werker voordoen.

“Op 28 Oktober het twee mans wat hulle as Eskom-werkers voordoen in Grabouw rondbeweeg. Ek het ‘n oproep van ‘n inwoner gekry oor hoe hul te werk gaan en dis presies dieselfde modus operandi wat gevolg is tydens die vorige voorval waar ‘n skootrekenaar en juwele gesteel is,” het ‘n buurtwaglid van Grabouw gesê.

Na die oproep van die geskokte inwoner het die buurtwaglede dadelik die boosdoeners agternagesit en by die taxi-staanplek in Grabouw is een van die verdagtes gevang. “Volgens hom kom hy van Delft in die Kaap. Sy makker het ongelukkig weggehardloop, maar ons het dadelik ‘n saak by die polisie aanhagig gemaak,” vertel die lid. “Was dit nie vir die omstanders by die taxi-staanplek nie, so hy ook weggekom het. Die samewerking was absoluut wonderlik”.

Die sogenaamde ”Eskom-werkers” klop glo aan die deure en vertel dat hulle moet ‘n opname doen oor die muurproppe in die huis. Hulle vra ook glo verskillende vrae en terwyl die een persoon die huiseienaar besig hou, steel die ander inwoner waardevolle artikels uit die huis. 

Selfs die onderburgemeester van Theewaterskloof-munisipaliteit, John Michels, het op sy Facebookblad die inwoners gewaarsku oor die slenter. 

Volgens ‘n woordvoerder van Eskom is dit al ‘n ou slenter en moet die mense paraat wees. “Eskom-werkers gaan selde na huise toe en as hulle by die huise is, het hulle ‘n geldige identifikasie. Moenie mense sommer in jou huis toelaat nie en vra vir die identifikasie van die persone. As jy steeds nie seker is of hulle van Eskom is, kontak die kantoor,” het die woordvoerder gesê.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.