Hoewel Tashwell van der Rheede se getuienis belangrike vrae rakende Charlene October se laaste oomblikke beantwoord het, het haar geliefdes baie vrae wat hulle kwel.
Charlene se broer, Kevin Jooste, het in ’n inskrywing op Facebook gevra: “Hoe koud is ’n mens se hart as hy jou hand vat op die dag van die begrafnis en simpatiseer oor die verlies van jou suster – met dieselfde hand wat deel was van die hande wat haar lewe so wreed van haar af weggeneem het?“ Hoe koud is ’n mens se hart as hy vir jou sê jy moet sterk wees vir jou ma terwyl hy die rede is dat my ma se hart en siel stukkend is oor die verlies van haar dogter wat hy van haar af weggeneem het?”
Dié vrae verwys na Charlene se gewese man, Ashley October, se optrede ná haar dood. Nog ’n familielid sê sy kan nie verstaan hoe ’n man sy kinders se ma se lewe kon neem en sodoende vir hulle onnodige trauma veroorsaak nie. Sy het bygevoeg dat sy heeltemal dronkgeslaan is oor die feit dat October die “vermetelheid” gehad het om aan ’n plakkaatoptog ná Charlene se dood deel te neem en hoe hy bewegingloos gestaan het toe by ’n gedenkdiens by Charlene se huis gebid is dat God die skuldiges na vore moet laat kom. “Almal het so baie vrae, maar hy swyg. Het hy nie ’n hart nie?” het sy bygevoeg.
Charlene se suster Alicia Jooste het in ’n slagofferimpakverklaring gesê die familie is “gebroke” en “in twee geskeur”. Sy het ook genoem haar familie is sedert October se inhegtenisneming in November 2021 nie eens weer toegelaat om Charlene se twee jongste kinders, wat nou by hul pa se familie woon, te sien nie. Haar vraag is hoe October die dag voor die moord saam met Charlene middagete kon geniet het. Haar tweelingsuster, Alexa Jooste, sê sy sukkel om te verstaan hoe die man, wat eens beloof het om Charlene lief te hê en te beskerm en die pa van haar twee jongste kinders is, deur sy wrede dade Charlene se kinders van hul ma kon ontneem.“
Nathan moes sy 21ste verjaardag, uit desperaatheid vir sy ma, langs haar graf deurbring. “Ethan, sy ma se eersgeborene, moes sy ma se lewelose liggaam aanskou en hy gaan daai beeld altyd saam met hom dra. Hoe wreed moet jy wees om nie ’n maand oue baba (Zarah, wat die aand van die moord by haar ouma geslaap het) in ag te neem nie? Hoe lank was sy daardie aand onversorg?” vra sy.
Hul ma se gesondheid en haar “menswees” is geknou, het Alexa bygevoeg.“My ma (71) was in Julie 2021 nog fluks en gesond. Drie maande ná Charlene se moord het my ma gevra hoekom Charlene nie meer bel nie. “Ons moes sedertdien oor en oor die nuus breek, en elke keer breek my ma se hart en ons huil asof dit die eerste keer is dat ons van Charlene se moord hoor.”
Alexa het ook vertel hoe Ashley aan ’n plakkaatoptog deelgeneem en selfs ’n petisie geteken het wat opgestel is nadat Van der Rhede in hegtenis geneem is om te vra dat hy nie op borgtog vrygelaat moet word nie. Die skuldigbevinding en vonnis, sê Alexa, bring skrale troos. “Ons geliefde is dood, maar sy familie kan nog vir hom gaan kuier terwyl ons na ons geliefde se graf moet gaan,” het Alexa gesê. Alicia het ná die vonnisoplegging op Facebook geskryf: “Haar kinders is seer. Haar familie is seer. Haar dood is nog nie verwerk nie. Haar naam is nog elke dag op ons lippe. Die seer volg ons soos ’n donker wolk.“Mag jy die lewenslange tronkstraf gebruik om na te dink oor jou dade en mag jy eendag die moed hê om haar kinders in die oë te kyk en vergifnis te vra vir jou selfsugtige, sinnelose, wreedaardige dade.”