Bianca du Plessis
Zanie Vaaltyn se familie sukkel nie net om sy sinnelose moord te aanvaar nie, maar ook om genoeg geld in te samel om die jong man, wat sy ouma se broodwinner en staatmaker was, te begrawe.
Sy kleinniggie Hanna Botha vertel hoewel daar ‘n begrafnispolis is, moet die familie nou probeer raap en skraap om die meer as R6 000 in te samel wat nog uitstaande is.
Zanie, wat in 2019 na sy ma se dood saam met sy familie na Bredasdorp verhuis het, is een van die slagoffers wat verlede Vrydag in Bredasdorp na bewering deur twee broers doodgesteek is.
Hanna vertel dit lyk asof Zanie eers in ‘n stoeiery met sy aanvallers betrokke was voordat hy in Skoolstraat inmekaar gesak en kort daarna gesterf het.
“Die mense het my vertel dit lyk asof hulle eers naby die bruggie gestoei het, want die sand was los en deurmekaar. Ons weet nie of hulle hom dalk met ‘n baksteen ook geslaan het nie, want daar het bakstene by die bruggie gelê en hy het ook ‘n hou teen die kop gehad,” het sy emosioneel vertel. “Hy het verder in die pad af gehardloop en onder ‘n lamppaal gaan sit. Toe hy sy hemp uittrek, het die mense al die bloed gesien. Hy het mense gevra om die ambulans te bel en sy naam gesê, toe sterf hy…”
Die 65-jarige Hannes Price is volgens berigte 10 minute voor die aanval op Zanie in Mitchellstraat doogesteek. Die twee tonele was slegs 150 m uitmekaar.
Volgens Hanna sukkel die familie om die wrede moord te verwerk. “Hy was ‘n stil en sagte mens, baie rustig. Hoe kry jy dit reg om iemand wat jy nie eens ken nie, so seer te maak?
“My antie, sy ouma Hessie Lantu, is gebreek, want hy was haar staatmaker en broodwinner. Sy het ‘n polis vir hom gehad, maar dis te min. Ons het hulp nodig asseblief,” het Hanna gesê.
Enigeen wat ‘n finansiële bydrae wil maak om die familie in hierdie moeilike tyd te help, kan Hanna by 071 854 9464 bel. Die begrafnis vind volgende Saterdag (31 Mei) in Bredasdorp plaas.