’n Guinness World Records-houer wat in 2016 die rekordboeke gehaal het vir die meeste BurpeeFit-oefeninge asook ’n voormalige Mevrou SA-finalis is besig om die lewens van bejaardes wat aan alzheimers, demensie, disleksie en outisme ly, te verander. 

Susan Fourie (38), wat haar hele lewe lank al in die fiksheidsbedryf betrokke is en in 2012 te sien was op die Trojan Warrior-televisiereeks doen die afgelope 28 maande studies op die brein. Fourie het met ’n plan vorendag gekom om breingolf-musiek en pilates-weerstandband-oefeninge te kombineer om bejaardes met alzheimers, demensie, disleksie en outisme weer ‘n nuwe geleentheid op die lewe te gee. 

Die konsep is nog in die gevallestudiestadium, maar die deelnemers se uitslae spreek al klaar boekdele. Val Cloete, wat ‘n hartaanval gekry het en ‘n angiogram ontvang het, het kort na sy operasie aan geheueverlies begin ly. Sy vrou, Des, het hom na ‘n neuroloog geneem waar daar vasgestel is dat hy alzheimers begin ontwikkel het ná die operasie. Fourie het begin werk met Val en hy het ongelooflik gegroei. “My man was baie depressief. Hy wou nooit die huis verlaat nie. Susan het met hom begin werk en ek kon daagliks sien hoe hy verbeter. Hy het vandag (27 Januarie) die eerste keer saam met een van sy vriende gaan kuier (nadat hy vir lank net in die huis wou bly),” sê Des. Sy noem dat Susan ‘n positiewe energie aan haar het wat definitief op haar man afgesmeer het.  Volgens Fourie het Val met sy eerste oefensessie, net 91 repetisies gedoen in die kombinasie-koördinasieoefeninge en verlede week het hy 353 reps gedoen.

As Fourie nie oefen of ander help om hulself te verbeter nie, bring sy tyd deur saam met haar hond, Bullet, ‘n Franse bulhond, en lei ander honde op. “Ek leer die honde alles van leibandopleiding tot hul gedrag. Wat Bullet so spesiaal maak, is hy is ‘n terapiehond wat met mishandelde mense en gestremde kinders werk,” sê Fourie. Fourie, wat die oefensessies by die De Wet-saal in Onrus hou, sê die sessies duur van 45 minute tot ‘n uur. “Tans het ek nege mense in my klas, maar ek het ruimte vir 25 persone. So, daar is nog baie plek beskikbaar,” sê sy. Die sessies is verniet en sy nooi belangstellendes om die eerste sessie op 16 Februarie by te kom woon.  Fourie noem al moet sy die besigheid nog registreer dat sy besluit het op die naam Neuro Quantum Fisiolates Therapist. “Ek wil die liggaam, siel en gees in die oefeninge insluit en ons laat elkeen volgens hy/sy vermoë oefen,” sê Fourie. Haar groot droom is om eendag haar eie sentrum oop te maak waar ‘n mens brein en liggaam saam kan kombineer.  

Vir meer inligting oor Fourie se gekombineerde breingolf-musiek en Pilatus-weerstandband-oefeninge bel haar by 072 770 8763 of stuur ‘n e-pos aan prinsessusan@gmail.com.

You need to be Logged In to leave a comment.