’n Guinness World Records-houer wat in 2016 die rekordboeke gehaal het vir die meeste BurpeeFit-oefeninge asook ’n voormalige Mevrou SA finalis is besig om die lewe van bejaardes wat aan alzheimers, demensie, disleksie en outisme ly, te verander.
Susan Fourie (38), wat haar hele lewe lank al in die fiksheidsbedryf betrokke is en in 2012 te sien was op die Trojan Warrior-televisiereeks, doen die afgelope 28 maande studies op die brein. Fourie het met ’n plan vorendag gekom om breingolf-musiek en pilatus-weerstandband-oefeninge te kombineer om bejaardes met alzheimers, demensie, disleksie en outisme weer ’n nuwe geleentheid te gee op die lewe.
Die konsep is nog in die gevallestudie- stadium maar die deelnemers se uitslae spreek al klaar boekdele. Val Cloete wat ’n hartaanval gekry het en ’n angiogram ondergaan het, het kort ná sy operasie begin lei aan geheueverlies. Sy vrou, Des, het hom toe geneem na ’n neuroloog toe waar daar vasgestel is dat hy alzheimers begin ontwikkel het ná die operasie.
Fourie het begin werk met Val en hy het fenomenaal gegroei. “My man was baie depressief gewees. Hy wou nooit die huis verlaat het nie. Susan het met hom begin werk en ek kon daagliks sien hoe hy verbeter. Hy het vandag (27 Januarie) die eerste keer saam een van sy vriende gaan kuier (na hy vir lank net in die huis wou bly),” sê Des. Sy noem dat Susan ’n positiewe energie aan haar het wat definitief haar man, Val, aangeraak het.
Volgens Fourie het Val op sy eerste oefensessie waar hy van haar kombinasie koördinasieoefeninge gedoen het, net 91 repetisies gedoen, laasweek het hy 353 reps gedoen.
As Fourie nie oefen of ander help om hulself te verbeter nie, bestee sy tyd saam haar hond, Bullet, ’n Franse bulhond, met wie sy ander honde oplei. “Ek leer die honde als van leiband-opleiding tot hul gedrag. Wat Bullet so spesiaal maak, is hy is ’n terapiehond wat werk met mishandelde mense en gestremde kinders,” sê Fourie.
Susan wat die oefensessies hou by die De Wet-saal in Onrus, sê die sessies duur van 45 minute tot ’n uur. “Tans het ek nege mense in my klas, maar ek het ruimte vir 25 mense. So daar is nog ruimte beskikbaar,” sê sy. Die sessies is verniet en sy nooi belangstellendes om die eerste sessie op 16 Februarie by te kom woon.
Fourie noem aangesien sy die besigheid nog moet registreer, sy besluit het op die naam Neuro Quantum Fisiolates Therapist. “Ek wil die liggaam, siel en gees insluit in die oefeninge en ons laat elkeen volgens hy/sy vermoë oefen,” sê Fourie.
Haar groot droom is om eendag haar eie sentrum oop te maak waar ’n mens brein- en liggaamkoördinasie-oefeninge kan kombineer.
Vir meer inligting oor Susan se gekombineerde breingolf-musiek en Pilatus-weerstandband-oefeninge kontak Susan Fourie op 072 770 8763 of stuur ’n e-pos aan prinsessusan@gmail.com.