Caledon-biblioteek fokus op gesondheid

Die Caledon-biblioteek is nie bloot net ’n plek waar lesers boeke kan uitneem nie – jy kan hier navorsing doen, rustig sit en die jongste tydskrifte lees of op die rekenaar werk.


Die Caledon-biblioteek is nie bloot net ’n plek waar lesers boeke kan uitneem nie – jy kan hier navorsing doen, rustig sit en die jongste tydskrifte lees of op die rekenaar werk.

Die biblioteek bied ook gereeld inligtingsessies oor belangrike onderwerpe vir die publiek aan.

November is gestremdheids­bewusmakings­maand en die biblioteek het verlede Woensdag (15 November) ’n baie interessante program aangebied waar verskeie sprekers hieroor gepraat het, asook oor fisieke en geestelike gesondheid vir mans.

Gerhard van Wyk van die Caledon-biblioteek sê: “Daar is dikwels nog so ’n stigma rakende mense met gestremdhede en baie mense is ook onkundig oor gestremdhede en daarom het ons mense met gestremdhede in ons gemeenskap genooi om hul boodskap aan die publiek oor te dra. Dit is belangrik om te weet dat hulle ook gewone mense is, maar ander behoeftes het.

“Mans veral is soms sku om oor hul gesondheidstoestand te praat of om vir gereelde ondersoeke en opvolgbesoeke te gaan, en daarom het ons dr. Trevor Pillay gevra om oor hierdie belangrike kwessies te praat,” sê van Wyk.

Oefening en fiksheid is net so belangrik vir goeie gesondheid. Die fiksheidsinstrukteur Michael Solomons het beklemtoon geestesgesondheid en fisieke gesondheid gaan hand aan hand en oefening en goeie eetgewoontes is uiters belangrik.

Die raadslid Denzil Jacobs, wat TWK se ambassadeur vir mense met gestremdhede is, het ’n inspirerende boodskap van hoop aan alle teenwoordiges gebring. Eugene Gardiner, wat in ’n motorongeluk verlam is, het ook sy verhaal gedeel en vertel van die struikelblokke wat gestremdes ervaar.

“Die sleutel vir my is om elke dag positief te bly, ongeag die situasie waarin ek my bevind,” sê Gardiner.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.