Die spanne van Working On Fire het onverpoos gewerk om die brand in die Napier-omgewing in bedwang te kry.Foto: Ora Laubscher


In die loop van die vyf dae waarin brandbestrydingspanne geswoeg en gesweet het om die veldbrand wat Woensdag 9 Februarie buite Napier kop uitgesteek het, te bestry, het inwoners letterlik en figuurlik hul harte en hande oopgemaak.

Overberg-brandweer, Working on Fire en Greater Overberg Fire FPA, wat lede van die plaaslike boeregemeenskap insluit, het almal gehelp om die brand in bedwang te bring. Inwoners en ondernemings van Napier sowel as van die buurdorp Bredasdorp, het op hulle beurt gesorg dat toebroodjies, vrugte, snoepgoed, koeldranke, pakke vol ys en nog meer op ’n deurlopende basis afgelewer word.

Die brandweerdiens is Woensdag 9 Februarie vir die eerste keer van die buurdorp Bredasdorp ontbied nadat rookwolke gerapporteer is. Vyf dae later, omstreeks 18:00 Sondag 13 Februarie, het twee Working on Fire-helikopters en lede van die Working on Fire-spanne wat bystand kom verleen het, uiteindelik gegroet. Lede van die plaaslike gemeenskap het met groot oë nader gestaan toe die geel gevaartes vir oulaas langs die Napier-polisiekantoor opgestyg het.

Volgens Reinard Geldenhuys, hoof van die Overberg se brand- en rampbestuur, het 4 600 hektaar in die loop van die vyf dae deurgeloop. Daar is hard gespook om woonhuise en eiendom op die plase te beveilig. Soveel as 45 brandslaners was volgens ’n fynbosplaaseienaar op een tydstip aan boord.

Die brand, wat na wat verneem is in die omgewing van ’n fynbosplaas teen die berg agter Napier ontstaan het, het uiteindelik oor ’n wye gebied tot aan die ander kant van die berg in die omgewing van die ou Voet van Afrika-roete versprei. Die plek-plek ontoeganklike terrein het die taak van die brandbestrydingspanne aansienlik bemoeilik.

’n Working on Fire-helikopterspan was Vrydag 11 Februarie op ’n gereedheidsgrondslag by die beheersentrum langs die polisiekantoor, maar die digte rook en wind het hulle aanvanklik op die grond gehou.

Volgens eienaars van fynbosplase teen die berg agter Napier, is ouer sowel as jong fynbos wat sedert die vorige brand weer begin groei het, vernietig.

Indringers waaronder talle dennebome, het ook in die slag gebly – ’n pluspunt, volgens Stephen Smuts, voorsitter van die Suid-Overbergse tak van die botaniese vereniging wat ook ’n bergeiendom besit. Hy het vertel dat hulle Sondagoggend reeds dooie slange, skilpaaie en ander velddiere wat nie oorleef het nie, in die verbrande veld opgemerk het.

Volgens Smuts gaan diere en voëls wat wel oorleef het, sukkel om kos in die hande te kry en blommeplukkers sal verder moet ry om veldblomme te pluk.

Met optimisme eie aan boere en kenners van die natuur, het Smuts die gesprek met dié wyse woorde afgesluit: “Time however, will heal the veld. Life will return to our mountain.”

You need to be Logged In to leave a comment.