Altesaam 211 977 inwoners van die Overberg is reeds teen die
koronavirus ingeënt. Dit sluit gesondheidswerkers en onderwysers in.
Die gesondheidsdepartement doen nou ’n beroep op mense om te
verseker dat hulle ingeënt is voordat hulle na hul werk of skool toe terugkeer.
Roché Butler, woordvoerder van die gesondheidsdepartement in
die Overberg, sê: “Maak dit een van jou nuwejaarsvoornemens – maak seker jy
word ingeënt sodat jy verseker is dat jy nie ernstig siek word weens Covid-19
nie. Daarby is dit ook belangrik dat jy ’n masker dra wanneer jy in die publiek
is, groot skares mense vermy en verseker dat daar goeie ventilasie is wanneer
jy binnenshuis is.”
Volgens Butler toon data wat onlangs bekendgestel is presies
hoe doeltreffend die Covid-19-inenting is in die voorkoming van ernstige
gesondheidsprobleme weens die virus. “So moenie wag nie, kry jou inenting!”
Data wat tydens die vierde golf ingesamel is toon:
· As jy ten volle ingeënt is, is jou kanse om weens Covid-19
in die hospitaal opgeneem te word drie keer laer en die gevaar van dood is vier
keer minder in vergelyking met mense wat nie ingeënt is nie.
· Nuwe hospitaaltoelatings is slegs 63% van wat dit tydens
die derde golf was;
· Die aantal Covid-sterftes tydens die vierde golf was slegs
24% van die sterftesyfer tydens die derde golf.
“Dis belangrik om pro-aktief te bly en te verseker dat ons
beskerm is in dié moeilike tyd,” waarsku Butler. “Inenting bly ons beste
beskerming teen Covid-19. Dit is aan almal vanaf 12 jaar en ouer beskikbaar.
“Indien jy jou dosis J&J-inenting meer as twee maande
gelede gekry het of jou tweede dosis Pfier ten minste ses maande gelede, moedig
ons jou aan om vir jou opvolgdosis (booster) te gaan. Jy hoef nie te wag vir ’n
SMS voordat jy daarvoor gaan nie en kan na enige lokaal gaan waar inentings
gedoen word.”
Mense met immuniteitstelsel-komplikasies wat reeds ’n
opvolgdosis ontvang het, kom in aanmerking vir nog ’n opvolgdosis van die
J&J-entstof twee maande na hul opvolgdosis. Diegene wat ‘n opvolgdosis van
die Pfizer-inenting gekry het, kom ses maande daarna in aanmerking vir nog ’n
opvolgdosis.